’n Mens lees dikwels dat geskokte en woedende mense misdadigers en hul veragtelike optrede as “dierlik” beskryf.
Ek reken dit is nie ’n korrekte en billike vergelyking nie. Diere in hul natuurlike habitat maak as ’n reël nie dood net om dood te maak nie. Oor die spektrum heen, van insekte tot roofdiere, maak diere as ’n reël net dood omdat hul prooi deel van die natuurlike voedselketting is, of omdat hulle, hul kleintjies of hul gebied bedreig word.
Verkragting is ook ’n vreemde konsep in die diereryk. Om enige willekeurige geweld en verkragting “dierlik” te noem, doen ’n onreg aan die diereryk.
Diere doen dit nie.
Maar diere is nie morele wesens nie. ’n Dier word deur sy instinkte en natuurlike drange gelei. ’n Dier maak nie keuses volgens morele wilsbesluite nie.
’n Mens het ook drange en instinkte, maar is egter nie bloot uitgelewer aan sy drange nie. Die mens, anders as diere, het die wilsvermoë om die regte keuses uit te oefen en is nie soos ’n dier as’t ware ’n slagoffer van sy instinkte en drange nie.
“Sonde” word deur ’n keuse, ’n wilsbesluit, voorafgegaan. Daarom praat ons nie van ’n “sondige” dier nie.
Die mens word gelei deur ’n persoonlike waardestelsel en morele oortuigings. Daarby kom die vermoë om die gevolge van besluite en dade te bereken.
Enige middels, soos alkohol en dwelms, wat ’n mens se oordeelsvermoë raak, behoort negatief bejeën te word. Dit is immers ’n wilsbesluit om dit te neem en behoort kwalik deur ’n hof as “versagtende” omstandighede gereken te word.
- Verkort, Netwerk24. Burger is ’n skrywer en oudkerkleier.


