Watertenks Ritchie
Dié 2 500-liter tenk wat met water gevul was, het op ‘n inwoner van Ritchie geval. FOTO: Verskaf

‘n Inwoner van Ritchie naby Kimberley veg om sy lewe nadat ‘n gevulde watertenk van 2 500-liter op hom geval het.

Die voorval het laatmiddag op Dinsdag 3 Februarie gebeur toe Sabata Winston Katsio (40), wie ook die DA adjunk-takvoorsitter in wyk 26 is, sy lewe in gevaar gestel het om drie jong kinders te red nadat hy hulle onder ’n groen JoJo-watertenk in die Motswedimosa-gebied sien speel het. Die tenk van die Sol Plaatje-munisipaliteit het glo op ’n onstabiele raam op gladde, nat gras gestaan.

Terwyl die kinders ongedeerd is, het die tenk op Katsio neergestort. Hy het ernstige beserings opgedoen, insluitend ’n gebreekte rug en heup wat hom verlam gelaat het, asook ’n nekfraktuur en ernstige interne beserings.

Hy veg tans vir sy lewe in die Robert Mangaliso Sobukwe-hospitaal in Kimberley, sê Elize Niemann, raadslid en DA-koukusvoorsitter in die Sol Plaatje-munisipaliteit. Niemann is ook ‘n inwoner van Ritchie, wat 40 kilometer buite Kimberley is, en deel van die Sol Plaatje-munisipaliteit.

“Hierdie tragedie was volkome voorkombaar en ontbloot nalatigheid in die munisipaliteit se watervoorsieningsprogram,” sê Niemann, en beklemtoon die DA se eis dat die Sol Plaatje-munisipaliteit volle aanspreeklikheid vir dié voorval aanvaar.

Waterkwessie strek ver terug

Groot dele van die breër Motswedimosa-gebied is reeds sedert 2018 sonder lopende water, sê Niemann. Dit volg nadat Sedibeng Water aan die pype gewerk het. Die spesifieke area waar Katsio woon, is sedert 2025 sonder water nadat kontrakteurs verder aan pype gewerk het en inwoners gedwing word om van watertenks afhanklik te wees.

Ná hierdie voorval het die DA ’n oorsigbesoek aan ander watertenks in die gebied gedoen.

Watertenks Ritchie
Ná die voorval is nog kinders opgemerk wat op die tenkstaanders speel. In dié geval staan die tenk ook gevaarlik skeef. FOTO: Verskaf

“Al die tenks is veronderstel om deur dieselfde munisipale kontrakteur onderhou te word. Ek het gewaar dat ten minste twee verdere tenks in die Mothlaku-sone op onstabiele rame staan. Kinders het ook op een van hierdie strukture gespeel. Nog twee tenks het gebreekte krane gehad, wat dit onbruikbaar maak.

“Die DA het verder bevestig dat hierdie tenks slegs een keer elke tien dae tot twee weke hervul word. Dit ongeag daarvan dat elke tenk slegs genoeg water vir ongeveer twee dae voorsien,” sê Niemann. 

LEES OOK: Ritchie ’n nagmerrie, sê inwoners

Hoewel die party die identiteit van die kontrakteur vasgestel het, was alle pogings om met die maatskappy kontak te maak, onsuksesvol. Munisipale amptenare het ook versuim om herhaalde oproepe te beantwoord. Niemann sê dit beklemtoon die munisipaliteit se kultuur van ontduiking en gebrek aan aanspreeklikheid. 

Sy sê voorts die party sal nie toelaat dat hierdie voorval sonder gevolge verbygaan nie.

“Ons is in gesprek met senior munisipale bestuur om te verseker dat die munisipaliteit saam met die Robert Mangaliso Sobukwe-hospitaal werk sodat Katsio die lewensreddende mediese sorg wat hy dringend benodig, kan ontvang.

“Ons sal ook volle aanspreeklikheid nastreef teen die kontrakteur vir die versuim om aan die bepalings van die waterleweringskontrak te voldoen. Terselfdertyd moet toepaslike Sol Plaatje-amptenare aanspreeklik gehou word vir hul versuim om kontraktuele nakoming af te dwing en omdat hulle inwoners se lewe in gevaar stel. 

“Die DA sal voortgaan om te veg vir die herstel van water na inwoners se krane. Die munisipaliteit is dit aan Sabata Katsio en sy familie, asook aan elke inwoner van Ritchie wat sonder toegang tot water moet leef, verskuldig,” sê sy.

Thabo Mothibi, munisipale woordvoerder, sê die munisipaliteit “spreek sy diepste spyt uit oor die voorval waarin Winston Katsio beseer is. Ons primêre fokus is op sy welstand en herstel.

“Ons stadsingenieur het Katsio besoek. Ons help ook met die vervoer van Katsio se suster tussen Ritchie en die Robert Mangaliso Sobukwe-hospitaal. Wat sy mediese onkoste betref, is gesprekke nog aan die gang.”

Mothibi sê hulle ondersoek die omstandighede rondom die ineenstorting van die watertenk. “Hoewel die ondersoek sensitief is, moet die breër konteks van infrastruktuur-uitdagings beklemtoon word. Diefstal en vandalisme het algemene verskynsels geword. Ons JoJo-tenks en krane word gereeld deur vandale geteiken om herverkoop te word, of beskadig wanneer diewe nie met hul buit kan wegkom nie.”

Die voorval het gebeur terwyl die stad besig is met ‘n grootskaalse opknapping van die grootmaat-watervoorsiening in Ritchie.

“As veiligheidmaatreel, word ‘n omvattende veiligheidsoudit op alle JoJo-tenks in die gebied gedoen om te verseker dat dit struktureel veilig is.”

Hy sê die munisipaliteit gebruik die R2.5 miljard-toelaag van die Begrotingsfasiliteit vir Infrastruktuur (BFI) vir kritieke herstelwerk en opknappings.

“Die projek is deel van ons verbintenis om veilige, betroubare water aan alle inwoners te verskaf en om te voorkom dat soortgelyke voorvalle in die toekoms plaasvind.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article