Met blomme in die hare het ‘n vrolike piekniek-atmosfeer tydens die VLV Kuruman-tak se eerste vergadering vir die jaar geheers.
Die tema van die byeenkoms op 21 Januarie by Boa-fé was ernstig; daar is oor geestesversteuring by volwassenes gesels. Past. Stephan Roets, wat op 18 Januarie by Lewende Woord Kuruman aangestel is, het die byeenkoms geopen.
Ter inleiding van die spreker se onderwerp het Roets onder meer die volgende punte genoem:
Depressie is nie ‘n gebrek aan geloof nie. Soms is depressie net moegheid wat nie weggaan nie. ‘n Leë gevoel, selfs wanneer alles “reg” lyk. ‘n Gebrek aan vreugde, nie omdat jy ondankbaar is nie, maar omdat jou siel uitgeput is.
Depressie is nie altyd ‘n dramatiese krisis nie. Jy funksioneer, maar jy voel niks. Jy doen alles reg, maar jy voel nie genoeg nie. Jy bid, maar dit voel of jou woorde teen die plafon vassteek.
Jesus was nie emosioneel afgestomp nie. Die Bybel wys ‘n Jesus wat diep gevoel het: Hy het gehuil; hartseer en benoud geraak; woede ervaar; verwerping gevoel. Maar sy emosies het Hom nie beheer nie – Hy het dit bestuur. Hy het ook nie sy emosies onderdruk nie. Hy het dit na die Vader geneem.
Wanneer volwassenes depressie ervaar, weet jy is nie swak omdat jy moeg is nie. Jy is ‘n mens. Jy hoef nie alles alleen te dra nie. Depressie gedy in afsondering. Genesing begin by eerlikheid. Boonop is God nie bang vir jou emosies nie.
Die volgende kan tot oplossing bydra: Om te erken: “Ek is nie reg nie.” Om hulp te vra – geestelik, emosioneel, soms professioneel. Om jou liggaam te versorg: slaap, rus, gesonde grense. As die Seun van God rus nodig gehad het – hoe veel te meer ons?
Diegene wat leeg, swaar of afgemat voel: Jy is nie gebreek nie. Jy is nie minder geestelik nie. Jesus ken emosionele pyn en Hy verstaan innerlike worsteling.
Geen skande om professionele hulp te vra
Hoofspreker Theresa Potgieter is ‘n holistiese geloofsgegronde afrigter en emosionele geneser. Sy het verskeie geestesversteuring of psigiatriese afwykings genoem, en gesê dat dit nie ‘n skande is om professionele hulp te kry nie. Geestesversteurings wat volwassenes kan ondervind, is:
- Gemoedsversteuring, soos depressie en bipolêre depressie.
- Angsversteuring, paniek en ‘n verskeidenheid fobies.
- Obsessief-kompulsiewe versteuring, opgaar, haaruittrekstoornis.
- Trauma- en stresverwante versteuring, post-traumatiese stresversteuring.
- Psigotiese versteuring, verlies aan kontak met die werklikheid; skisofrenie.
- Persoonlikheidsversteuring: narsisme.
- Eetversteuring, anorexia nervosa, bulimia nervosa en ”binge”-eetversteuring.
- Middelmisbruik, alkoholisme, dwelmverslawing en medikasie-afhanklikheid.
- Neuro-ontwikkelingsversteuring, insluitend outisme, ADHD en leergestremdheid.
- Slaapversteurings, soos insomnia, narkolepsie en slaap-apnee.
- Somatiese simptoom en verwante versteuring met fisiese simptome en ‘n psigiese komponent.
VLV-kalender 2026
- 16 Februarie: Mathys Roets tree by Boa-fé op.
- 18 Februarie: Die maandbyeenkoms word deur die kunste en handvlyt-groep aangebied.
- 28 Februarie: Nageregte gemaak deur die VLV Kuruman-tak word by Mimosahof-basaar te koop aangebied.
- 11 en 12 Maart: Sirkel Kalahari se 93ste konferensie word by Boa-fé gehou. Amoré Bekker en Elzette van Niekerk as sprekers.

LEES OOK: Middagkuier verander in dinkskrum vir volgende kunsteweek by Van Zylsrus





