Die rugbylegende Pieter James Pretorius, wat op 19 Mei oorlede is.

Foto: Nick Pretorius

Familie en vriende het verlede week hulde aan ’n ontslape rugbylegende van Upington, Pieter James Pretorius, gebring.

Boeta Pikes, soos Upington se mense hom geken het, is op 19 Mei by sy huis in die rype ouderdom van 92 jaar oorlede ná ’n stryd met prostaatkanker.

Boeta Piet, Pa of oom Pietie, soos sy naasbestaandes hom genoem het, was ’n briljante skrumskakel in die 1950s en 1960s.

Hy het Springbok-kleure in die destydse Kleurling Rugby-unie verwerf toe Suid-Afrikaanse rugby in die apartheidsera verdeeld was.

Pretorius het in ’n rekordgetal van 12 Rhodes-toernooie gespeel en in die laat 1950s en in 1963 twee keer vir die destydse Kleurling Springbokspan teen ’n Swart Suid-Afrikaanse vyftiental uitgedraf.

Hy was vernuftig agter die skrum met sy kenmerkende lang en sekuur aangeewerk. Sy taktiese skoppe en breekslae rondom die skrum het sy teenstanders ontsenu.

Pretorius was ook ’n kranige tennis- en gholfspeler en moes soms albei sportsoorte sonder enige professionele afrigting beoefen.

Sy vriend en voormalige spanmaat Deen “Tonna” Mouton, wat self die gesogte Groen en Goud oor sy skouers getrek het, het hulde aan dié reus van rugby gebring.

“Ek het die voorreg gehad om vier Rhodes-toernooie van 1963 tot 1969 saam met Pietie te speel.

“Hy was inderdaad ’n briljante rugbyspeler wat die spel haarfyn kon ontleed deurdat hy sy opsies so vinnig en doeltreffend kon uitvoer.”
Deen Mouton

“Hy het ’n reuse-aandeel gehad in die prestasies van die seëvierende Noordwes-Kaapspan (NWK) wat in 1963 in Kimberley alle teenstand uit sy pad gevee het om uiteindelik die gesogte Rhodes-trofee met die gedugte WP-span te deel.

“Die Kapenaars het daai dag gedink dis net vir opdraf en die beker Kaap toe te neem.

“Maar Piet en sy gedugte agtal het die WP ’n opdraande stryd gegee. Piet se ‘Gary Owens’ het WP ontkant betrap!

“Dit was ’n naelbyt-eindstryd wat toe geen punte opgelewer het nie. NWK het die span van Griekwaland-Wes in die halfeindstryd met 6 – 3 geklop om sodoende vir WP aan te durf.”

Pretorius was ’n onderwyser van beroep en het 40 jaar lank sy plek in die opvoedkunde vol gestaan, waarna hy in 1991 die tuig neergelê het.

Hy was geliefd onder sy leerlinge en was altyd by skolesport betrokke.

Sy oudste seun, Neil, het soos sy pa vir die plaaslike Collegians-klub en NWK op losskakel uitgedraf.

Toe Neil op kollege was, het hy provinsiale rugby as 19-jarige vir die destydse Transvaal gespeel.

“My pa het altyd vir my gesê: ‘Speel die oomblik en dink en fokus wat jy die volgende oomblik gaan doen’. Hy het nooit probeer om my coachte wees nie.”
Neil Pretorius

Pretorius word ook vir grappies onthou waaroor oud-rugbyspelers nog steeds kan lag.

“Pa se liefde vir sy kinders en kleinkinders en sorgsaamheid teenoor ons almal as gesinslede was vir ons baie spesiaal. Ons het baie dae van geluk en blydskap in ons gesinslewe geniet,” sê sy vrou, die 92-jarige Mercia.

Hy word oorleef deur sy vrou, twee seuns, Neil en Deon, en twee dogters, Merlé en Lollie.

Pretorius se begrafnis het Saterdagoggend (27/05) in Upington plaasgevind.

Nick Pretorius

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article