Met die sekondewyser wat vasberade sy klein treetjies deur elke minuut en elke uur stap, stap die uitlating “the only constant is change,” saam.
Soms is verandering glad nie aangenaam nie; dit maak seer, maak ongelukkig, of ruk ’n mens uit jou gemaksone en uit dit wat jy as sekuriteit beskou. Soms is die wind van verandering ’n verfrissende bries deur ’n mens se lewe, wat veroorsaak dat jy opnuut asem skep.
Daar is ook veranderinge wat ’n mens oor jouself bring, ten goede of ten slegte.
Met Wêreld-obesiteitsdag op 4 Maart was daar opnuut ’n oproep van talle gesondheidsorganisasies oor die wêreld heen om die groeiende obesiteitskrisis, wat aan al hoe meer siektetoestande gekoppel word, dringend aan te spreek. En, het navorsing bewys: Die grootste bydraende faktor tot obesiteit is leefstylkeuses en nie gene nie.
Nog ’n verandering wat Suid-Afrikaners oor hulself bring, is in die 2025-verslag van Reading Panel 2030 verwoord.
Dié paneel is in 2021 gestig om teen 2030 volledige leesgeletterdheid vir leerlinge in gr. 4 te behaal. Dit na aanleiding van die Progress in International Reading Literacy Study (Pirls) dat 81% van gr. 4-leerlinge in die land nie met begrip kan lees nie. Volgens Reading Panel se nuutste verslag kan 80% van gr. 3-leerlinge nie in enige taal met begrip lees nie.
Met kinders nog in die doeke, en wie se vingertjies reeds rats oor allerlei elektroniese toestelle flits, asook ouers wat nie ’n ander voorbeeld stel nie, het dr. Jaco Deacon, uitvoerende hoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas) raad in ’n artikel op Netwerk24. Hy reken dit is nie ’n tegnologie-probleem nie, eerder ’n ouer-probleem. Hy stel voor dat toestelle beter aangewend word om kinders van kleins af woordwys te maak.
Sien ouers kans om dié verandering mee te bring? Want dit sal beteken dat hulle hul eie toestelle moet neersit.



