Hoofartikel: Wat jou laat stop.
Stop vir ‘n oomblik en oordink hierdie mening. FOTO: Helena Barnard

Die Poubloues se stertvere is Saterdagaand in die eindstryd van die SA Beker-reeks deur die Pumas uitgepluk. Verlede jaar het dié Noord-Kaapse span die beker in die eindstryd gelig.

Vanjaar, behalwe een wedstryd tydens die duur van die reeks, was die Griekwas telkens die wenners. Dit is totdat die eindstryd met sy rooikaart wat ondersteuners rooi laat sien het, die bordjies verhang het.

Ná verlede week se veelbesproke ontmoeting tussen pres. Cyril Ramaphosa van Suid-Afrika en pres. Donald Trump van Amerika in die Amerikaanse Wit Huis, kan ‘n mens steeds nie besluit wie se stertvere uitgepluk is nie.

Is Ramaphosa se stertvere uitgepluk, of is dit Trump wat nou stertloos rondloop?

Dalk het elkeen nou ‘n handvol vere van die ander een as aandenking in ‘n vaas op die kaggelrak?

Soveel mense as wat daar is, soveel menings bestaan oor dié ontmoeting. Tog kan genoem word dat albei presidente stellings kwytgeraak het wat ‘n mens, namens hulle, wou laat inkrimp van skaamte.

Teenstrydig hiermee het elkeen ook stellings gemaak wat ‘n mens wou laat uitroep van lekkerkry.

So ‘n ontmoeting het diplomatieke en politieke waarde. Dit is nie te betwyfel nie.

Uit ‘n leke-oogpunt: Dit is jammer dat die kosbare tyd van so ‘n gesprek gemors is met ‘n getjommel en emosionele stellings.

Van dié emosionele stellings, as die waarheid voorgehou, is later as feitelik verkeerd ontmasker. Waar was die statistiek wat deur internasionaal erkende organisasies bymekaar gemaak kon word; wat stilweg die woord kon voer?

Ook, anders as Trump se soortgelyke gesprek met pres. Wolodimir Zelenski van Oekraïne vroeër vanjaar wat ‘n vurige woordewisseling was, was die gesprek met Ramaphosa op die oog af rustig.

En waarskynlik vervelig vir die sofapokkels (met “couch potato” as die lieflike Engelse weergawe) wat na aksie en woordvonke in die Wit Huis uitgesien het.

Van aartappels gepraat: Die Wêrelddag van die Aartappel word juis vandeesweek, op 30 Mei, gevier met die tema “Shaping History, Feeding the Future”.

Dit word gevier om die uiteenlopende waarde van die aartappel, as een van die vyf primêre voedselbronne te wêreld, te beklemtoon. Die aartappel is nie net voedsel nie, maar het ook ekonomiese, omgewings- en kulturele waarde.

Mag genoemde gesprekke soos die aardse aartappel wees, en wel die toekoms voed.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article