Sonder dié (vreemde) vlieënde soogdiere sou daar dermiljoene meer muskiete in die wêreld gewees het; en sou liefhebbers van avokadopere, veselperskes, piesangs en talle ander vrugtesoorte daarsonder moes klaarkom.
Vlermuise is gaande oor muskietjag; en hulle is onontbeerlik vir bestuiwing by baie vrugtesoorte.
Met Wêreld Vlermuisdag op 17 April is die mensdom daaraan herinner dat vlermuise nie ondiere van die duisternis is nie.
Hulle is nié bloedsuigende Dracula-diere wat op ’n mens afduik om in jou hare nes te maak, of jou slagare te soek nie.
(Toegegee, min mense sal nié die wildeweghol kry wanneer die reuse gouekroon-vrugtevlermuis van die suidooste van Asië te naby aan jou verbyvlieg nie – dié kalant kan glo tot 1,6 kg weeg, met ’n vlerkspan tot 1,7 m.)
Wetenskaplikes het in die laat 1970s aangedui dat vlermuise in die Demokratiese Republiek van die Kongo, waar die ebolavirus ontdek is, waarskynlik die natuurlike gasheer van die virus is. Hier, en in ander soortgelyke gevalle, het mense dié diere gevang en selfs geëet.
Vlermuise, net soos enige dierspesie, het hul doel in die natuur en dit is wanneer die mens onbeheersd inmeng dat ’n wanbalans ontstaan.
Teenoor die reuse-vlermuis is die kleinste vlermuisspesie die hommelby-vlermuis van Thailand – hulle is sowat 3 cm lank en weeg 2 g. Tog te skattig, en ’n mens kan amper lus voel om met hulle te speel.
’n “Speelding” wat veel eerder as ’n “ondier van die duisternis” kan uitdraai en gevaarliker as ’n vlermuis met ’n virus kan wees, is die mensgemaakte slimfoon in die hand van veral jong kinders en tieners.
Kundiges waarsku toenemend oor die ongekontroleerde gebruik van ’n slimfoon, die eensame bestaan wat dit veroorsaak en die emosionele gevare daarvan.
Hoe hanteer jy as ouer jou kind se slimfoongebruik?
Of koes jy eerder weg daarvan, soos vir ’n vlermuis?

