Hoofartikel: Wat jou laat stop.
Stop vir ‘n oomblik en oordink hierdie mening. FOTO: Helena Barnard

Met ‘n volronde gesig kyk die maan vandeesweek op moederaarde toe, so saam met die Internasionale Dag van Menslike Ruimtevlugte wat op Saterdag 12 April herdenk word.

Op dié dag in 1961 is die eerste ruimtekapsule met ‘n mens aan boord die ruimte ingestuur. Hiertydens het Yuri Gagarin, ‘n Sowjet-burger, een wentelbaan om die aarde in die ruimtekapsule Vostok 1 voltooi. Dié reis het glo 108 minute geduur teen ‘n spoed van 27 400km per uur.

Met hierdie ruimtevlug was die Russe die eerste om ‘n mens die ruimte in te stuur. Soos dit met die mensdom en die diereryk gaan, het die mens egter jare voor dit diere in verwante eksperimente gebruik, en is talle spesies in ruimtetuie en -kapsules die ruimte ingeskiet. So is vrugtevlieë, apies, honde, katte, skilpaaie, muise, rotte, hase, visse, paddas, spinnekoppe, insekte en selfs kwartel-eiers glo die ruimte in.

Die verhouding tussen mens en dier word deur uiterstes gekenmerk. Van troeteldiere met uitrustings, ‘n eie TV-stelletjie, wat masserings en skoonheidsbehandelings kry; tot vasgeketting of ingehok in haglike omstandighede, weerloos teen weersomstandighede en verwaarlosing. Of mense wat hul verbeel dat wilde diere Disney-karakters is.

In woonbuurtes word groter honde meestal as waghonde en afskrikmiddel vir kwaaddoeners aangehou, en kleiner hondjies as “geselskap” en alarmmakers, veral snags.

‘n Mens neem egter so gereeld waar dat honde skynbaar oneindiglik blaf. Is dié geblaf omdat die dier gefrustreerd of eensaam is, of weens opgehoopte energie?

Verlede week se aanval van ‘n pitbull op ‘n tienjarige kind in Galeshewe, Kimberley, het die debat oor dié honderas laat ontvlam, die omstandighede waarin honde aangehou word, asook beveiligingsmetodes om toegang tot dié diere te beperk.

Uiteenlopende menings oor wat tot dié spesifieke aanval gelei het, gaan niks aan die feit verander dat dié kind vir die res van haar lewe geskend is nie. ‘n Mens kan byna nie anders as om vinger na ‘n hele bestel te wys nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article