Jy knip weer jou inkopietog kort omdat die luide musiek in die winkelsentrum jou rooi laat sien.
Jy draai in jou spore in ’n winkeldeur om omdat die klank uit die winkel so oorverdowend is dat jy paniekerig voel.
Jy voel om ’n verbygaande voertuig, met doef-doef-musiek uit vibrerende luidsprekers wat jou huisvensters laat ratel, met ’n baksteen te gooi.
Jy wil die eienaar van ’n motorfiets, wat die enjin se toere ten hemele opjaag, van sy ryding afpluk en sy ore warm klap.
Jy vermy restaurante omdat jy nie kan liplees nie; en omdat die skuimmaakmasjien en die koffieboonmeul jou senuweepunte met stomp messies aan vodde saag.
Jy oorweeg dit nie eens om ’n konsert by te woon nie omdat jy weet jy gaan net doef-doef-doef hoor en niks anders nie.
Jy kan dit nie verduur om mense te hoor kou nie; en wil hulle glad nie hoor gaap nie; nog minder hoor vingers knak, of hoor fluit of neurie.
Jy is nie alleen hierin nie, en is dalk deel van die 20% wat aan misofonie of geluidshaat ly.
Volgens Pharos-woordeboeke is geluidshaat ’n hewige afkeer van bepaalde geluide. Mense met geluidshaat het nie net ’n hekel aan bepaalde mensgemaakte geluide nie; dit kan hulle so irriteer dat hulle selfs met woedeuitbarstings reageer.
Op medicalnewstoday.com word beklemtoon dat hierdie soort geluide ’n onmiddellike negatiewe emosionele reaksie by die lyers veroorsaak. Die Harvard Universiteit het bevind dat dit meestal geluide is waarop baie ander mense skaars ag slaan, en hulle kan heerlik voortkoop, -kuier of -gesels in so ’n “geraas”.
Geluidshaat is nie as ’n afwyking met ’n sielkundige aard gelys nie, hoewel daar voorstelle is om dit onder obsessiewe kompulsiewe gedrag en verwante afwykings te groepeer. Behandeling word ook voorgestel.
Soms wonder ’n mens egter: Wie het die behandeling nodig?
Die geluidshaters of die geluidmakers?



