Mense in Finland is, vir die agtste jaar agtereenvolgend, die gelukkigste spulletjie in die wêreld.
Dit volgens die jaarlikse Wêreldgelukkigheidsverslag, wat op 20 Maart op Internasionale Dag van Geluk bekend gemaak is. Hierin het Suid-Afrika ‘n 95ste plek uit 147 behaal.
Ons familielede in Australië, Nieu-Seeland en Kanada se glimlagte lyk opreg te wees want dié lande het onderskeidelik die 11de, 12de en 18de plek behaal.
Afghanistan het weereens in die 147ste plek beland, met ons bure in Zimbabwe 143ste, Botswana 142ste, Lesotho 138ste, en Eswatini 137ste. Die Verenigde Koninkryk en die Verenigde State is nie só in die wolke nie, met onderskeidelik die 23ste en 24ste plek.
Suid-Afrika se hoogste plek nog op dié geluksleer was in die 83ste plek, en in 2024 is die grootste afwaartse kurwe ooit getoon.
Dié verslag meet geluk onder meer gekoppel aan mense se geestesgesondheid, algemene gesondheid, hoe hulle hul tyd deurbring, waar hulle woon, hul opvoeding en opgewing, asook persepsie van korrupsie.
Hand-om-die-lyf stap bogenoemde met Menseregtedag wat op 21 Maart in Suid-Afrika gevier is; ‘n dag wat onder meer die demokratiese waardes van menswaardigheid, gelykheid en vryheid bevestig. ‘n Demokrasie, soos ons gereeld hoor, met ‘n volwasse ouderdom van bykans 31 jaar.
Met hierdie as agtergrond is dit bedroewend om die kommentaar te lees wat gelewer word op van die algemene werkers van die uitgebreide openbarewerkprogram (EPWP) se sloerstaking in Kimberley.
Soos dit op sosialemediaplatforms gebeur, word die slimste en die mees snydende kommentaar dikwels gelewer deur diegene wat duidelik nie die berig, in verlede week se publikasie, gelees het nie. Hierin vertel dié algemene werkers meer oor hul daaglikse werksomstandighede, wat ‘n gebrek aan basiese toerusting, beskermende klere en koördinering van hoër gesag insluit.
Soos gesien op salarisstate wat getoon is, is die bedrag wat van hulle as salaris ontvang, veel minder as die ooreengekome bedrag – en is, terloops, minder as die minimum loon wat plaasarbeiders betaal word. Boonop is verhogings iets wat hulle nie ken nie.
Een van hulle het opgemerk: “Waarom is dit dat wanneer ons werk, ons nie raakgesien word nie?”
Wat hulle vra is basiese werkersregte, die regte salaris, en menswaardigheid – in lyn met die Wêreldgelukkigheidsverslag en Menseregtedag.




