Volgens marknavorsing dui 50% van Suid-Afrika se sowat vyf miljoen jong volwassenes met tersiêre onderrig aan dat hulle “waarskynlik” voor 2029 gaan emigreer.

Die oorgrote meerderheid van hierdie jong volwassenes jonger as 35 jaar is swart, sê marknavorser BrandMapp. As finansieel sterker en meer geleerd, meen dié jeugdiges toenemend dat hul toekoms oorsee “baie beter” sal wees as in Suid-Afrika, aldus die opsomming van die navorsing wat op Netwerk24 publiseer is.

Tussen ouer Suid-Afrikaners is daar bykans niemand wat nie ’n familielid, vriend of kennis het wat jare gelede na ’n “beter lewe” elders uitgewyk het nie.

’n Groot aantal van hulle “aan die anderkant” is nostalgies oor Suid-Afrika; hulle laat blyk in gesprekke en boodskappe hoe hulle dit of dat van die land mis.

’n Paar van hulle het permanent na Suid-Afrika teruggekeer, ook omdat aanpassing elders moeilik is; “dinge anders”.

Maar die jonger garde reis ligter, emosioneel en fisiek. Dalk het hul grootword in die wye digitale ruimte ’n invloed; hulle word nie deur grense, ander kultuur en protokol afgeskrik nie.

Twee kleretasse, een skoot­rekenaarsak en ’n betroubare selfoon – met ’n bank-app waarop hulle geld vir familie kan stuur – is vir baie al aardse besittings wat nodig is om die wêreld aan te durf.

Boonop kom dit voor of hulle nie deur familie-erfstukke óf die (oudmodiese) idee van één lewenslange loopbaan by één maatskappy gepootjie word nie.

Die marknavorsing beklemtoon dat Suid-Afrika met 45,5% een van die hoogste jeugwerkloos­heid­syfers ter wêreld het, en dit neig steeds opwaarts.

Gekwalifiseerde jeugdiges be­skou emigrasie as ’n goeie opsie, ná ’n berekening van koste en voordele. Boonop is dit lank meer nie net ’n “wit ding” om te doen nie, aldus die navorsing.

Met die aantal ongekwalifi­seerde jeugdiges, jonger gekwalifi­seerdes wat uitwyk, en oues wat aftree, sal die “nuwe” regering Salomo se wysheid moet toepas om die gras aan dié kant groener te kry.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article