Op hierdie dag 54 jaar gelede – op 20 Julie 1969 – het ’n geraamde 650 miljoen mense op beeldsendings gekyk hoe Neil Armstrong die eerste mens word om die maan ná die eerste maanlanding te betree.
Suid-Afrikaners wat wel al teen 1969 die lewenslig aanskou het en reeds oud genoeg was om nie meer die Bollie-tydskrif te lees nie, het dié beeldsendings egter misgeloop.
Hulle het waarskynlik met die oor teen die radio gesit en prentjies in hul gedagtes gevorm, want “beeldradio”-uitsendings is eers tien jaar later in Suid-Afrika ingestel. Was dit nie vir ’n foto hier en daar in ’n koerant of in Die Huisgenoot nie, sou hulle ook nie ’n idee gehad hoe die Apollo 11-tuig gelyk het nie.
Diegene wat op die krakerige radio-uitsending ingeskakel was, het Armstrong se beroemde woorde met sy eerste tree op die maan gehoor: “That’s one small step for man. One giant leap for mankind”.
Of was dit wat hy gesê het?
In taalkundige verslae oor die amptelike transkripsie van die maanlanding is bewys dat dit nie sy presiese woorde was nie.
Gelukkig het Edwin “Buzz” Aldrin, die tweede mens om op die maan te stap, dit met: “Beautiful, beautiful, beautiful,” eenvoudig gehou.
Hoewel ’n groot deel van die aardbewoners met eie oë die maanlanding aanskou het, is daar diegene wat glo dat die maanlanding nie plaasgevind het nie, maar in ’n ateljee opgestel is. Daar is dié wat glo dat die aarde plat is; dat die Loch Ness-monster in Skotland bestaan.
Daar is diegene wat glo dat Warrenton teen middel Julie vanjaar weer water in die krane gaan hê. Daar is diegene wat glo dat die R2 miljard wat aan die Sol Plaatje-munisipaliteit toegeken is om die verouderde waterinfrastruktuur te herstel, daarvoor aangewend gaan word.
Studies het hoeka bevind, en soos ook beskryf in The Enigma of Reason deur die Universiteit van Harvard uitgegee, dat die mensdom veel eerder deur emosies glo as deur feite.


