Afwagting.

Dié tyd van die jaar – ’n maand voor Kersfees en minder as ses weke voor 2023, is dit ’n woord wat waarskynlik baie mense se gemoedstoestand kan beskryf.

Afwagting vir die skoolvakansie om te begin; vir die jaarlikse verlof wat voorlê; vir die stiller tyd by die werk (of die stiller paaie op pad werk toe of die stiller woonbuurt wanneer die meerderheid elders heen uitgewyk het).

Afwagting om verrigtinge of die spyskaart of geskenke vir Kersdag of Nuwejaar te beplan en te begin uitvoer.

Afwagting oor ’n moontlike verhuising wat gaan plaasvind; dalk ’n nuwe werk wat aangepak gaan word; oor ’n “nuwe begin” wat saam met die nuwe jaar ingestap gaan word.

Afwagting oor ’n pad wat vir die eerste keer verken gaan word; oor ’n horison waarop jy nog nie jou oë gelê het; of oor ’n nuwe roosboom wat eersdaags sy eerste goudgeel roos gaan wys.

Hier teen week 47 van die jaar – wat elke dag sy tekkies aangehad het en soos ’n marathon-atleet die pas volgehou het – het ’n mens die gevoel van afwagting nodig.

Afwagting help om weer hoop te kry; om ’n vars vooruitsig of ’n belofte of ’n vae waarskynlikheid van iets beter, iets anders, in jouself aan te voel.

Maar soos met die meeste dinge in die lewe kan dit nie net by gevoel bly om ’n daadwerklike verskil te maak nie.

In die meeste gevalle moet die afwagting in werkbare aksie omskep word om ’n verskil te maak.

Wonderwerke gebeur, maar baie meer selde as wat ons sou wou hê.

Eie aksie, eie besinning, eie beplanning is nodig om die verskil in jou lewe te maak; en om by te dra dat die pakkies afwagting wat langs ’n mens se lewenspad gepak is, oopgemaak kan word.

Soos die uitdrukking lei: As jy doen wat jy nog altyd gedoen het, sal jy kry wat jy nog altyd gekry het.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article