KIMBERLEY – Nog bates van ‘n voormalige finansiële administrateur van ‘n Noord-Kaapse skool is bevries – dié bates is glo aangeskaf met miljoene rande wat by die skool verduister is.
Die nuutste beperkingsbevel is betreffende ‘n residensiële eiendom in Kathu ter waarde van ongeveer R1,8 miljoen, wat aan die 43-jarige Jessica Kuhn behoort. Dié bevel is op Donderdag 27 Augustus deur die Hooggeregshof toegestaan.
Kuhn, wie as ‘n finansiële administrateur by die Hoërskool Kathu gewerk het, is op 2 Julie by haar huis in dié dorp in hegtenis geneem. Sy het na bewering ongeveer R9 miljoen oor ‘n tydperk verduister. Kuhn staar bedrog- en geldwassery-aanklagte in die gesig, en nadat beslissende feite aan die hof voorgelê is, is sy borgtog geweier.
Die nuutste beperkingsbevel volg ná die bewaringsbevel oor vier voertuie en drie karavane met ‘n gesamentlike waarde van ongeveer R1,6 miljoen wat op 20 Augustus aan die Nasionale Vervolgingsgesag se Bateverklaringseenheid toegestaan is. Hierdie bevele verhoed dat die geïdentifiseerde bates verkoop, oorgedra, verberg of andersins van die hand gesit word hangende die uitkoms van die strafvervolging en enige daaropvolgende verrigtinge.
Mojalefa Senokoatsane, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag, sê ondersoeke het aan die lig gebring dat sommige van die voertuie en karavane in die name van Kuhn se familielede geregistreer is.
In die ondersoek is verder vasgestel dat die voertuie vir kontant by dieselfde motorhandelaar in Upington oor ‘n tydperk van ongeveer drie weke gekoop is. Die handelaar het ‘n deurslaggewende rol gespeel deur wetstoepassingsowerhede by te staan en inligting te verskaf wat beduidend bygedra het tot die opsporing en identifisering van die bates.
Bron van kontant bevraagteken
Aansienlike kontantaankope deur Kuhn is geïdentifiseer wat binne ‘n relatief kort tydperk gemaak is. Die bron van dié fondse is bevraagteken, veral in die lig van haar diensposisie en skynbare finansiële vermoë.
Vroeër het luitenant-kolonel Tebogo Thebe, Valke-woordvoerder, gesê die beskuldigde se modus operandi het na bewering die skep van private bankrekeninge ingesluit waarheen skoolfondse van die Hoërskool Kathu herlei is. Finansiële onreëlmatighede is in Oktober 2025 tydens ‘n oudit in die skool se finansiële rekords geïdentifiseer. Geld ter sprake sluit gewone skoolgelde in, sowel as skenkerbedrae wat gebruik word om die salarisse van onderwysers in skoolbeheerliggaamposte te betaal.
Dié bewaring- en beperkingsbevele oor die bates ter waarde van ongeveer R3,4 miljoen is deur samewerking van die Nasionale Vervolgingsgesag se Bateverklaringseenheid in Kimberley, en die Prioriteitsmisdaad Gespesialiseerde Inspektoraat van die Direktoraat vir Prioriteitsmisdaadondersoek (Valke) verkry.
- Kuhn sal na verwagting op Maandag 31 Augustus weer in die hof verskyn.
LEES OOK: Borgtog geweier vir Kathu-vrou wat glo miljoene van hoërskool verduister





