Inwoners van Gordonia-Sentraal betaal tans die meeste vir brandstof in Suid-Afrika.
Dit is veral weens die pad- en pypleidingsvervoertariewe vir petrol en diesel wat jaarliks in April aangepas word. Die land word vir dié tariewe in 54 sones verdeel.
By benadering, hoe verder ’n sone van die kus af is, hoe hoër is die vervoertarief. Dit is omdat die meeste brandstof ingevoer word en per pypleiding of padlangs vervoer moet word.
Vanjaar is die aanpassings aan die vervoertariewe uitsonderlik groot. Die hoogste aanpassing, van 40,8c per liter, is vir die streek Gordonia-Sentraal. Die laagste aanpassing, van 7,8c per liter, is vir Gauteng.
Die tariewe is nie in 2022 aangepas nie en in 2021 was die aanpassing minimaal. Die grootste aanpassing was toe ook vir Gordonia-Sentraal, naby die Kgalagadi-oorgrenspark, maar dit het net 2,8c per liter beloop.
In dié sone kos 95-oktaan-petrol van 5 April af R23,89 per liter. Dit is teenoor R22,25 aan die kus en R22,97 in Gauteng.
Die verskil tussen die goedkoopste petrol in Suid-Afrika – aan die kus – en die duurste petrol in Suid-Afrika – in Gordonia-Sentraal – beloop tans R1,64 per liter.
1. Gordonia-Sentraal, Noord-Kaap: R23,89;
2. Gordonia-Suid (Upington), Noord-Kaap: R23,87;
3. Kuruman, Noord-Kaap: R23,85;
4. Thohoyandou, Limpopo: R23,85;
5. Dzanani-Noord, Limpopo: R23,83;
6. Giyani, Limpopo: R23,83;
7. Hay, Noord-Kaap: R23,78;
8. Gordonia-Noord (Askham), Noord-Kaap: R23,77;
9. Kenhardt, Noord-Kaap: R23,77; en
10. Ganyesa, Noordwes: R23,67.
Intussen lyk dit na ’n uitgemaakte saak dat petrol in Mei meer as 50c per liter duurder gaan word, maar dat diesel goedkoper gaan word.
– Hanlie Stadler, Netwerk24



