Die drie beskuldigdes wat op Vrydag 7 Maart in die hooggeregshof in Kimberley skuldig bevind is op die grusame moorde in 2020 op Dan en Breggie Brand, en hul dogter, Elzabie Brand, is elk tot meer as 40 jaar gevangenisstraf gevonnis.
Elkeen is 25 jaar gevangenisstraf vir die drie moorde opgelê en vyf jaar elk vir drie aanklagte van regsverydeling – vonnisse wat samelopend uitgedien sal word, asook 15 jaar vir roof met verswarende omstandighede.
Donald Seoleseng (toe 21) en Tshepo Visagie (toe 36), albei van Majaneng; en Tsepaone Melato (toe 20) van Pudimoe, is Vrydag in die hooggeregshof in Kimberley skuldig bevind aan moord, roof met verswarende omstandighede en regsverydeling. In die vonnisoplegging is Seoleseng ook twee jaar tronkstraf vir ontsnapping opgelê.
Die vierde aangeklaagde, Kgomotso Mpulwana (toe 43) van Rooiwal, is onskuldig op al die aanklagte teen haar bevind.

Realeboga Manyedi, en ’n halfbroer van Visagie, het later ’n staatsgetuie geword. Hy is danksy sy eerlike getuienis van vervolging vrygeskeld.
Visagie se appèlaansoek teen sy vonnis is summier deur regter Cordelia Kgopa afgewys. Visagie het aangevoer die staatsgetuie se getuienis moet nie aanvaar word nie, want dit was nie eerlik nie.
Regter Kgopa het in haar uitspraak bevind dat ’n ander hof nie tot ’n ander gevolgtrekking gaan kom nie.
‘Oorval op stil, rustige Sondagmiddag’
Die Brand-slagoffers het op dié dag omstreeks 12:00 nog telefonies met familielede vanaf hul hoewe by Hartswater gesels. Hulle is om 13:00 ontvoer en vasgebind, en teen 15:00 was hul lyke reeds in die veld gegooi. Hul twee motors, selfone, skootrekenaars en handsakke is ook gebuit.
In haar uitspraak het die regter bevind die drie slagoffers is op ’n Sondagmiddag tydens middagete, terwyl dit stil en rustig was, in hul huis met skerp en stomp voorwerpe aangerand. Daar was bloedsleepmerke binne en buite die huis, en Dan se bril en hoed het op die erf gelê toe ’n buurman ’n dag later ondersoek ingestel het nadat die Brands se twee dogters, Heidi Taljaard en Trudie de Beer, wat onderskeidelik in Kaapstad en Potchefstroom bly, alarm gemaak het omdat hulle nie hul geliefdes per telefoon kon bereik nie.
Die polisie het die toneel afgesper en ’n uitgebreide soektog is begin.
Van die verdagtes is die Maandagaand in Elzabie se Mazda op pad na Taung deur die polisie aangekeer, kort nadat Visagie uit die motor geklim het. Visagie is weer die volgende dag aangekeer.

Mpulwana was agter die stuurwiel en in besit van Elzabie se selfoon. Teen dié tyd is die Gautengse-nommerplaat reeds met ’n Noord-Kaapse-nommerplaat vervang, wat volgens die regter op die fyn beplanning van die misdaad dui. Seoleseng het die aand wat hy in hegtenis geneem is, uit die polisievangwa ontsnap maar is by Mpulwana se huis, steeds geboei en met polisiehondbytmerke, aangekeer. Die polisie het later nog ’n selfoon, skootrekenaar en handsak wat aan die Brands behoort het, in Mpulwana se huis gevind.
Lyke versteek onder takke, in rotsskeur
Op die aand van die inhegtenisname het Manyedi dadelik aan die polisie gesê hy sal die ligging van die lyke uitwys. In sy getuienis het hy vertel dat Visagie hom daardie Sondag omstreeks 15:00 gebel en gevra het hy moet hulle langs die pad met ’n emmer ontmoet. Hulle het na ’n ander nedersetting gery waar hulle bloed uit die kar gewas het.
Vir ’n ander getuie is gesê die bloed is afkomstig van ’n donkie wat raakgery is. Volgens een getuie het Visagie ook ’n wiel by ’n kennis geleen om aan die Nissan te pas, waarvan die een wiel pap was.
Visagie het aan sy halfbroer gesê hy wil hom iets wys en gevra of hy al iemand doodgemaak het. Hulle het in die veld in gery en ’n man en vrou se lyke wat in die veld gelê het, per motor na ander plekke verskuif en onder takke versteek. Vandaar is ’n ander skootrekenaar en selfoon verpand en brandstof in die Mazda gegooi.

Hulle het weer na die veld gery waar Dan se rooi Nissan Micra verlate gestaan het. Visagie het met die Nissan, pap wiele en al, tot by die gruisgroef gery waar die motor later gevind is, Breggie se lyk uitgehaal en in die Mazda se bagasiebak geplaas is. Dié liggaam is by ’n afgeleë rotsskeur by ’n watergat in ’n duvet toegedraai en versteek.
Die volgende dag het die mans saam met Mpulwana na ’n heler gegaan om te verseker die verkoop van die Mazda verloop glad. Dit is toe dat die polisie hulle in hegtenis geneem het.
In hul ontkenning het die mans volgehou dat hulle tydens ’n jagtog in die veld op die twee motors afgekom en die Mazda, selfone en skootrekenaars wou verkoop. Die getuienis dui egter dat hulle ook met die Nissan gery het, het die regter bevind. Een van die polisielede het getuig dat Visagie kort ná sy inhegtenisneming die vinger na Mpulwana as die opperbrein gewys het.
Moorde laat ‘ewigdurende leemte’
De Beer en Taljaard het ter strafverswaring getuig hoe die hartelose, genadelose en wrede moorde hul lewe verpletter het. Die onvergeeflike moorde op hul geliefdes het ’n ewigdurende leemte in hul en hul kinders se lewe gelaat.

Seoleseng en Melato het deur hul regsverteenwoordigers ter strafversagting verskoning vir hul optrede gevra.
Die regter het bevind hulle het met ’n gemeenskaplike doel opgetree, en dat die beplande rooftog na die moorde gelei het om enige teenstand te verhoed. Die jonger moordenaars is moontlik deur Visagie beïnvloed. Volgens haar is ’n lewenslange vonnis nie “gepas“ nie. Dit was hul eerste oortreding, hoewel “afskuwelike en in die ergste graad”.






You must be logged in to post a comment.