Vicky

Vicky Kruger se 11-jarige boetie help om blik te skud om geld vir Katy in te samel.

Om te help om kinders in moeilike omstandighede se lewe beter te maak, was een van die hoofdoelwitte waarmee Vicky Kruger haar vanjaar vir die Mej. Addie-kompetisie ingeskryf het.

Vicky, ’n gr. 12-leerling aan die Hoërskool Adamantia in Kimberley, het besef vanjaar is haar laaste kans om aan die kompetisie deel te neem – iets wat sy nog altyd wou doen.

Toe Vicky hoor van die vyfjarige Katy van Christiana wat weens ’n ernstige virusinfeksie in die Robert Mangaliso Sobukwe-hospitaal in Kimberley opgeneem is, het sy nie gehuiwer om die kleuter te begin besoek nie.

Katy, wat verlede week ontslaan is, was sedert Desember in dié hospitaal. Die infeksie het haar in so ’n mate aangetas dat sy van voor af moet leer om te eet en te loop.

Vicky het haar gereeld besoek, toiletware en ander benodigdhede gebring, en boonop gehelp om die kleuter se lang dae in die staatshospitaal beter te maak. Saam het hulle onder meer legkaarte gebou en video’s gekyk. Vicky het Katy se toonnaels geverf, en van haar vriendinne saamgeneem.

“Die kontak met mense van buite die hospitaal het Katy positief beïnvloed,” vertel sy, en sê dat Katy vir haar veel meer as “net ’n projek” is.

Hoewel Katy nie meer in die hospitaal is nie, is haar pad na herstel nog lank. Sy kan al op haar eie eet, maar is steeds swak. ’n Rolstoel is ’n onmiddellike behoefte.

Vir dié rede het Vicky, wat nog wonder of sy haarself as sielkundige of sjef moet bekwaam, Saterdag (01/04) begin om “blik te skud” by die vierrigtingkruising van Jacobus Smit- en Gerrit Schoutenstraat in Kimberley.

Nog ’n projek wat Vicky aanpak, is besoeke aan die kinders by Destiny House, ’n tydelike plek van veiligheid vir babas en kleuters.

Sy doen aktiwiteite met hulle, en trakteer hulle soms op iets lekkers om te eet. Sy het ook al gehelp om klere uit te soek en kaste reg te pak, en doen ook insameling van onder meer winterklere, kos en toiletware.

Leza Greeff van Destiny House het ondersteuning aan Katy se ma gebied deur verblyf in gastehuise te reël, en ook etes, wanneer sy wel haar kind kon besoek.

Finaliste in die jaarlikse Mej. Addie-kompetisie moet elk ’n individuele projek of projekte aanpak, en saam reël hulle ’n geldinsamelingsgeleentheid waarvan die geld vir ’n gemeenskapsprojek gebruik word.

“Dit gaan alles oor die verskil wat jy kan maak,” lui ’n inskrywing op die webwerf, en dit is wat Vicky doen.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article