Die parool van die 29-jarige man, bekend as die Griekwastad-moordenaar, is herroep. In ‘n verklaring op Donderdag 4 Junie het die Departement van Korrektiewe Dienste (DKD) amptelik bevestig dat dié oortreder se parool teruggetrek is.
Dit volg nadat die Upington-paroolraad sy vrylating op parool goedgekeur het nadat slegs 11 jaar van sy effektiewe tronkstraf van 20 jaar voltooi is. Talle vertoë van die gemeenskap het op dié paroolgoedkeuring gevolg. Die minister van Korrektiewe Dienste, dr. Pieter Groenewald, het die paroolraad se besluit vir hersiening na die Korrektiewe Toesig- en Paroolhersieningsraad verwys.

Voor die verwysing na die paroolhersieningsraad het die minister alle toepaslike dokumentasie met betrekking tot die paroolplasingsbesluit aangevra, aldus die DKD in die verklaring.
Dié raad, onder voorsitterskap van ‘n regter van die Hooggeregshof, is getaak om die oorspronklike besluit van die Upington-paroolraad te hersien en moes die besluit óf bevestig óf dit met sy eie vervang.
Ná die hersiening het die paroolhersieningsraad besluit om die Upington-paroolraad se besluit te vervang. Die oortreder sal dus voortgaan om sy vonnis uit te dien en moet binne ‘n bepaalde tydsbestek aan voorgeskrewe korrektiewe maatreëls voldoen voordat sy geskiktheid vir paroolplasing heroorweeg kan word.
Dié oortreder se inhegtenisneming, verhoor en vonnis volg na ‘n voorval in 2012 toe die oortreder, toe 15 jaar oud, op Goeie Vrydag vir Deon, Christel en die 14-jarige Marthella Steenkamp op die plaas, Naauwhoek, naby Griekwastad, doodgeskiet het. Hy is skuldig bevind aan drie aanklagte van moord, ‘n aanklag van verkragting, asook aan regsverydeling. In Augustus 2014 het die Noord-Kaapse Hooggeregshof hom tot effektief 20 jaar tronkstraf gevonnis.
Ingevolge die Strafproseswet word die betrokke oortreder se naam nie genoem nie aangesien hy ‘n minderjarige ten tyde van die oortredings was.
LEES OOK: Murder at Naauwhoek: Griekwastad reeled by the possible release of a killer





You must be logged in to post a comment.