Eddie Fouché, wat vanjaar een van die sleutelspelers in die Pumas se verowering van die Curriebeker was, het Maandag (01/08) by Griekwas in Kimberley begin oefen.

Pieter Bergh, afrigter van die Poubloues, het bevestig dat Fouché in Kimberley saam met die Noord-Kapenaars slyp vir die nuwe seisoen.

Fouché, wat voortaan vir Griekwas sal uitdraf, kan losskakel of binnesenter speel. Hy het op 25 Junie op binnesenter vir die Pumas in die eindstryd van die Curriebeker-reeks teen die einste Poubloues in Kimberley uitgedraf.

Die span van Mpumalanga het daardie dag geskiedenis gemaak deur met 26 – 19 te wen en sodoende vir die eerste keer die Curriebeker-kampioen te word. Fouché sal vir Griekwas se nr. 12-trui meeding met onder andere Tertius Kruger, wat ná ’n paar omswerwinge terug in die Diamantstad is.

Die 24-jarige Fouché is nie die enigste speler wat pen op papier gesit het om sy rugby voortaan vir Griekwas te speel nie. Bergh-hulle het ook die dienste van twee Blitsbokke, Sako Makata en Lubabalo Dobela, bekom.

Makata (23) was in die nasionale sewesspan wat Sondag (31/07) die goue medalje by die Statebond- spele verower het.

Dié twee is nog tot die einde van die jaar by die Blitsbokke gekontrakteer. Hulle sal op 1 Januarie by Griekwas begin sweet.

Die twee Blitsbokke het albei die wens uitgespreek om voortaan op die langer weergawe van die spel te fokus.

Makata, ’n oudleerling van die Stirling High School in Oos-Londen, kan as vleuel of buitesenter oorweeg word.

Dobela word hoog aangeslaan deur Bergh en kan as losskakel of heelagter diens doen.

Die 24-jarige Dobela se koms versterk die Poubloues se diepte op losskakel. Bergh het ook Fouché en die strydros George Whitehead as opsies vir die nr. 10-trui tot sy beskikking. Die veelsydige agterspeler Zander du Plessis, wat ook losskakel kan speel, is aan die Leeus geleen.

Marnus Kok

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article