Griekwas kan vanjaar vermag wat Mannetjies Roux en sy roemryke Poublou-span van 1970 bereik het.

Die Noord-Kapenaars kom die naweek in die halfeindronde van die Curriebeker-reeks teen die Bulle in Pretoria te staan.

Griekwas het Vrydag (10/06) in Mbombela met ’n vertoning van deursettingsvermoë die Pumas met 45 – 44 geklop.

Pieter Bergh, afrigter van Griekwas, sê dit is die derde wedstryd vanjaar wat hulle wen nadat die sirene afgegaan het.

Griekwas het sewe van hul 12 wedstryde op pad na die halfeindronde gewen. Die opwindende rugby wat hulle speel, met hul kanniedood-houding, maak hulle ’n sterk aanspraakmaker om vanjaar die Curriebeker omhoog te hou.

Griekwas het in 1970, met Roux as kaptein, ’n groot opskudding in die Curriebeker-reeks veroorsaak deur Noord-Transvaal in die eindstryd te klop.

Die Noord-Kapenaars het in 1979, 1998, 2019 en verlede jaar in die halfeindronde vasgeval. – Marnus Kok

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article