’n Pleidooi vir “meer rugby” is deur die Griekwas se afrigter, Pieter Bergh, gelewer nadat sy span se aanspraak op vanjaar se Curriebeker-titel Vrydag (09/06) in Kimberley gekelder is.

Die Poubloues het met 17 – 27 teen die Pumas vasgeval. Anders as die groot unies wat in die Verenigde Rugbykampioenskap (VRK) en die Europese Kampioenebeker- of Uitdaagbeker-reeks speel, is dit die Griekwas, en ook die Pumas, nie beskore nie.

Dit beteken dat die Griekwas eers weer aanstaande jaar wanneer die Curriebeker begin in ’n volwaardige reeks in aksie kan wees. Vanjaar het die Curriebeker op 10 Maart begin.

Verlede jaar het die Griekwas ’n paar wedstryde in die Toyota-uitdaagreeks gespeel en ook ’n wedstryd in Windhoek.

“As ons tot Maart nie enige rugby speel nie, sal ons bereid wees om van ons spelers in die VRK te laat speel.

“Dit sal moeilik wees om vir sewe maande voorseisoen in Kimberley te doen. As ons geleenthede vir ons spelers kry, sal ons dit oorweeg,” sê Bergh.

– Berig verkort

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article