Vanjaar het die Boesemvriendinne-projek van Solidariteit Helpende Hand, in vennootskap met die Kankervereniging van Suid-Afrika (KANSA) ‘n totaal van 4 507 sagte en liggewig gebreide prostese beskikbaar gestel vir vroue wat weens borskanker ‘n mastektomie moes ondergaan.
René Roux, hoof van kommunikasie by Solidariteit Helpende Hand, sê vir baie vroue is duur silikoonprostese nie bekostigbaar nie. Hierdie gebreide prostese bied fisiese gemak en gee vroue die kans om hul selfbeeld, menswaardigheid en gevoel van normaliteit terug te vind.
“Elke prostese is meer as net wol en vulling. Dit is ‘n gebaar van hoop en omgee. Dit is vroue wat vir vroue opstaan,” sê Roux.
LEES OOK: Boesemvriendinne brei duisende borsprostese
Roux sê wat hierdie projek besonder uniek maak, is die hart daaragter.
“Baie van die prostese word deur ouer vroue gebrei wat elke steek vul met geduld, liefde en sagte aanmoediging. Hulle brei dat dit bars aan die pakkies wanneer dit afgelewer word, met klein ekstra gebreide verrassings wat dikwels ingesluit word om ‘n glimlag saam met elke prostese te stuur.”
Verskeie versendings hiervan is reeds landwyd via KANSA se kantore versprei sodat vroue in stadsgebiede én dorpe die ondersteuning wat hulle verdien, kan ontvang. Helpende Hand se vennootskap met SOX en USN het ook aanleiding tot skeppende geldinsameling deur Boesemvriendinne-kouse gebring. Die aankoop van een paar kouse help twee vroue met ‘n paar borsprostese.
“Hierdie projek wys die krag van gewone mense wat met liefde iets buitengewoon kan doen. Dit is omgee wat klop. Elke bydrae, maak ‘n tasbare verskil,” voeg Roux by. Die publiek word uitgenooi om aan te sluit, te help brei, of ‘n geldelike bydrae te maak om nog meer vroue te ondersteun.
“Ek het in onkologie gewerk en ervaar hoe diep kanker se letsels strek. Hierdie projek bring verligting,” sê projekleier Chandré Oosthuizen.
Stuur ‘n e-pos na chandre@helpendehand.co.za.





