Skole in Upington en omgewing word deur ’n laerskool in Gauteng uitgedaag om ook geldinsamelingsprojekte te loods vir ’n duur kogleêre inplanting wat ’n 13-jarige meisie van Upington nodig het.
Die Laerskool Kenmare in Krugersdorp het reeds die eerste fase van hul doelwit bereik deur R10 000 in te samel.
Dit gaan aangewend word sodat Chermelle Maasdorp (13) van Upington klasse by ’n spraakterapeut in die dorp kan bywoon wat haar gebaretaal gaan aanleer.
Kenmare se volgende doelwit is om R400 000 deur middel van ’n staptog tydens die Oktobervakansie in te samel sodat die kogleêre inplanting, wat vir Chermelle se regteroor goedgekeur is, uitgevoer kan word.
Elsabé Bell, projekkoördineerder en onderwyser by Kenmare, vertel dat Chermelle nie met die gehoorprobleem gebore is nie. Sy het op vier maande breinvleisontsteking gekry wat tot haar doofheid gelei het.
Sy kan liplees, gebruik gebaretaal wat sy self aangeleer het, en ontvang tuisonderrig.
Kenmare, wat vroeër vanjaar reeds met hul Doele vir Drome-projek begin het, het ’n waglys met kandidate vir ’n kogleêre inplanting van die Stigting vir Kinders met Gehoorverlies in Suid-Afrika ontvang. Chermelle wag reeds jare vir so ’n inplanting.
Erika Basson van die stigting sê Chermelle is ’n “baie slim en oulike meisiekind met baie potensiaal”.
“Dit is ’n lang pad van baie oefening en rehabilitasie ná die operasie, maar binne ses tot 12 maande met rehabilitasie en spraakterapie sal haar toekoms reeds aansienlik anders lyk.”
Bell vertel dat Kenmare-leerlinge van 2 tot 6 Oktober tydens die skoolvakansie vanaf Uniondale tot in Mosselbaai gaan stap om geld vir die kogleêre inplanting in te samel. Sy noem dit ’n pelgrimstog van hoop, en sê dat leerlinge van ander Wes-Kaapse skole ook gedeeltelik gaan saamstap, met ouers wat borge help werf vir die inplanting.
Die Rotary-klub van Upington het ook betrokke geraak.
Doele (en drieë) vir drome
Dié insameling is een van Kenmare se uitreikprojekte. Vroeër vanjaar, tydens die Superseries-rugbyreeks by Grey-kollege in Bloemfontein, het die rugbyspelers hul Drieë vir drome-projek behoorlik deurgevoer.
Hiertydens het ouers en ondernemings geld geskenk volgens die aantal drieë wat rugbyspelers van Kenmare gedruk het. Die geld wat toe geïn is, is gebruik om ’n aangepaste skootrekenaar van R42 000 vir ’n Bloemfonteinse seun te koop wat ná ’n ongeluk ’n kwadrupleeg gelaat is.
Hierdeur geïnspireer, het Kenmare se netbalspanne soveel doele moontlik in vriendskaplike en ligawedstryde aangeteken om geld vir Chermelle in te samel, en dit het grootliks bygedra tot die eerste R10 000 wat bymekaargemaak is.
Vir dié skool strek betrokkenheid nog verder: Bell sê as ’n opvoedkundige instelling wil die skool sy leerlinge van gr. 1 tot gr. 7 gebaretaal aanleer.
Megan Holmes, Mej. Doof Internasionaal, help hiermee deurdat sy video’s aan die skool stuur wat die leerlinge help om gebaretaal aan te leer.
Sy vertel dat sy en haar man, Franklyn, al so lank sukkel om hulp vir Charmelle vir ’n kogleêre inplanting te kry. Ook Chermelle se ouer sussie en jonger broer sien uit na die pad vorentoe, en leer flink saam aan gebaretaal.
“Met al die hulp wat ons nou kry, sal dit baie beter gaan,” sê Vanessa.
“Waarom raak nie meer skole by die projek, of soortgelyke projekte, betrokke nie?
“Waarom speel nie meer skole vir so ’n doel nie?” nooi Bell.
- Vir meer besonderhede, skakel die skool tydens skoolure by 011-955-1081 of 011-955-1074, of stuur ’n WhatsApp-boodskap aan Bell by 082-067-1540.




