Die eerste 30 Orania-kareeboompies word binnekort in die Bo-Karoo aangeplant as deel van AfriForum se Bo-Karoo-tak se Boomplantmaand-projek.
Die eerste besending is deur die Orania-kwekeryprojek aan die tak gelewer en is reeds aan instellings geskenk om geplant te word.
Die projek is in Januarie deur ’n samewerkingsooreenkoms tussen die Orania-dorpsraad en die tak op die been gebring. Dit spruit uit die destydse Rosestadmodel in Bloemfontein waarvolgens inwoners aangemoedig is om roosbome teen lae pryse by die munisipaliteit te koop en dit in die stad te plant.
Die geharde karee vaar optimaal in die harde Noord-Kaapse klimaat.
“AfriForum verstaan die waarde van bome. Dit is opwindend om te sien hoe plaaslike gemeenskappe die inisiatief neem om vanuit hul eie omgewing boompies te verskaf,” sê Werner Strauss, provinsiale koördineerder.





