Kunstenaar Karen Visser
Die kunstenaar Karen Visser. FOTO: Verskaf

Wat as ‘n eerste kunsweek in Van Zylsrus beplan is, het so momentum gekry dat dit spoedig na ‘n kunsteweek hernoem is.

Nie net het visuele kunstenaars van jonk tot oud hul talent getoon of ontdek nie, maar het woordkunstenaars en skeppendes in ‘n breë veld van skone kunste in dié verafgeleë Noord-Kaapse dorpie byeengekom waar kuns, Kalahari-natuurskoon en gasvryheid kombineer is.

Die pottebakkersklasse, asook die storievertel-oggend en skrywers- en digtersmiddag het veral goeie aftrek gekry, vertel Pieter Pienaar. Hy was die organiseerder, en as voormalige kunsonderwyser en kunstenaar, ook deelnemer en leermeester.

Vir dié kunsteweek van 7 tot 9 Oktober het belangstellendes van wyd en syd voor die tyd die program bestudeer en hulself by ‘n spesifieke kunsteklas ingeskryf.

Kunstenaars doenig in die vars Kalahari-lug van Van Zylsrus. Foto’s: Verskaf

Daar was ‘n keuse van tekenkuns, bricolage, blommekuns, kinderkuns, waterverfklasse, keramiekverf, pottebakkery, praatjies oor die geskrewe woord, akrielverfkuns, en meer. Hiertydens kon kunstenaars van die omgewing ook ander skeppende persone buite die omgewing ontmoet.

Die kunsklasse vir die plaaslike kinders het net so goed verloop en nagenoeg 60 kinders het elke dag hiervoor opgedaag.

Saans is ontspan en die Kalahari en sy stilte waardeer. Die afsluitingsgeleentheid het in die Van Zylsrus-hotel plaasgevind – wat ‘n kunswerk op sy eie is. Hier is die kunswerke ook uitgestal.

‘Wat ‘n lekkerte was dit nie’

“Hoe opwindend was dit nie van die heel eerste oomblik af nie,” laat weet kunstenaar Karen Visser van ‘n plaas teen die Oranjerivier ná die kunsteweek.

“Kuns is terapie vir die uitgewaste gees. As jy jou met een of ander vorm van kuns besig hou, koel jou binneste af en kry jy nuwe energie vir die volgende lading werk. Jou perspektief op die lewe, benadering tot probleemoplossings en verhoudings, asook spanningsvlakke, baat alles by ‘n kreatiewe skeppingsgleuf. Jou afgeskeepte binnekant kry nuwe lewe, jou selfvertroue ‘n hupstoot, want jy skep iets mooi.” Visser het akrielverfskilder aangebied, en een van haar studente was slegs 14 jaar oud.

“Wat ‘n lekkerte was dit nie om mense te leer om iets waar te neem en dan te skilder nie! Granate, mossies, magrietjies, skape en hoenders het onder elke student se hande ‘n eie unieke lewe gekry. Om te glo in jou eie vermoëns is sekerlik die belangrikste bousteen van enige goeie kunstenaar,” skryf Visser.

Skrywers by die boekemiddag.
Die skrywers by die boekemiddag is van links, voor: Dana Kriek (Van Zylsrus), Chummy de Bruin (Van Zylsrus), Tarina van der Rijst (Olifantshoek), Hannie C-Nel (Kakamas) en Jané Bruwer (Kathu); agter: Rudo Wessels (Van Zylsrus), Amanda Fourie Hanekom (Van Zylsrus), Engela du Plessis (Severn), Hélène Burger (Severn), Petro Spangenberg (Kuruman), Heleen Bruwer (Kathu), Zelda Mans (Kathu) en Pieter Pienaar (Doringdraai).

Hélène Burger en Zelda Mans vertel dat met die byeenkoms van die storievertellers en skrywers besef is: Elke dag gebeur ’n storie. Dit moet net vertel word, en party moet vir die nageslag in geskrewe vorm bewaar word. Tussen die kameeldoringbome en sandduine lê meer stories as wat ’n mens gedink het.

LEES OOK: Aasvoël-geoglief sprei sy vlerke in die Kalahari-sand

Tydens die geleentheid was verskeie gepubliseerde skrywers teenwoordig.

Heleen Bruwer, skrywer en digter, sê: “Skryf neem jou op reis na selfontdekking.” Mans werk aanlyn as redigeerder en teksskrywer en het al twee romans publiseer. Volgens haar is ‘n leë rekenaarskerm vreesaanjaend.

Tydens die pottebakkersklasse wat oor drie dae aangebied is, wys Shane Mayongo, keramiekkunstenaar, vir Magriet Fourie van die Daniëlskuil-omgewing. Langs haar is Petro Spangenberg van Kathu en op die punt is Marina van Schalkwyk van Kathu. Mayongo van Upington is eersdaags op pad na Portugal om ‘n prys vir sy keramiekwerk te ontvang. Hy is blykbaar die enigste keramiekkunstenaar van Suid-Afrika wat hierheen genooi is. Hy het al voorheen drie maande in China deurgebring om keramiektegnieke baas te raak.

Pienaar se boek, “Kalahari Kwashale & Sketse” wat ’n koffietafelboek is met ’n versameling van sy kunswerke en foto’s oor die Kalahari, is ook ten toon gestel.

Volgens digter Petro Spangenberg was dit ’n fees om tussen soveel regterbreinpersoonlikhede te wees.

‘Kuns hoef nie altyd sin te maak nie’

Die keramiekkunstenaar Karlin Grobler van Wobbly Plates Pottery Studio in Kathu sê sy het geleer dat kuns nie altyd sin hoef te maak nie.

Karen Visser en Francina Noëth.

“Kuns is wat jý voel, wat jý sien, wat joú hart sê wanneer jy iets skep. Vat tyd en leer die mens agter die kuns ken. Hierdie tipe byeenkomste gee jou die geleentheid om skouers te skuur met baie begaafde kunstenaars. Kom uitgehonger na kennis en hulle sal jou voed.”

Die Van Zylsrus-skrywer, Chummy de Bruin is gaande oor die krag van die pen. “Om jou emosies te verwoord is gratis en net so goed soos ‘n goeie kopskoonmaak by ‘n sielkundige.”

Piet Nel van Kakamas met ‘n kunswerk wat hy geskep het.

Tarina van der Rijst, skrywer van Olifantshoek, vertel dat sy eersdaags na Pretoria gaan verhuis. “As ek daar in die stad is, sal dit vir my ‘n groot troos wees om te onthou van die groot oop ruimtes met pragtige plantegroei en wye velde op pad na Van Zylsrus – so wyd soos die Heer se genade.”

Ida Hutton, kunstenaar van Postmasburg wat op gratis kunsklasse vir die plaaslike kinders gefokus het, vertel dit was ‘n ongelooflike geleentheid om deel van Van Zylsrus se kunstefees te wees.

Annemarie Louw (links) van Kuruman en Abigail Beukes van Postmasburg. Beukes was Ida Hutton se assistent by die gratis kinderklasse vir die gemeenskap op die duin.

Cryselda Venter, ‘n kunstenaar van Jeffreysbaai, sê dit was “wonderlik om vriendelike mense te kon ontmoet, wat honger is om kunsgoete te leer.”

Volgens Pienaar is daar geen twyfel dat so ‘n kunstebyeenkoms weer volgende jaar aangebied gaan word nie. Skryf aan hom by pieter.abraham@gmail.com

Die storievertellers.

LEES OOK: Eerste kunsteweek, skep van aasvoël-geoglief in Van Zylsrus maak geskiedenis

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article