Richtersveldiella sanparkensis. FOTO: Verskaf
Richtersveldiella sanparkensis. FOTO: Verskaf

Die eerste insekspesie sover bekend is formeel na die Richtersveld Nasionale Park en die Suid-Afrikaanse Nasionale Parke (SANParke) vernoem.

Dit volg ná die internasionaal gerekende entomoloë, dr. Massimo Meregalli van Italië en dr. Roman Borovec van die Tsjeggiese Republiek, onlangs nuwe navorsing oor vluglose kalanders (weevils) publiseer het wat in afgeleë dele van die Richtersveld met sy merkwaardige biodiversiteit versamel is.

Hierdie grondbewonende insekte is moeilik om te bestudeer omdat hulle onder struike leef en hoofsaaklik snags te voorskyn kom. Hul ontdekking vereis noukeurige veldwerk in uitdagende terrein – toestande waarvoor die Richtersveld bekend is.

Met die ondersteuning en leiding van die botanis en kwekerykurator van die Richtersveld Nasionale Park, Pieter van Wyk, het die navorsers die afgeleë Armmanshoekvallei verken, ‘n gebied wat nog nie voorheen vir grondinsekte ondersoek is nie. Hul pogings het tot die identifisering van verskeie nuwe spesies gelei, sê SANParke in ‘n verklaring.

Ter erkenning van die park se deurslaggewende rol in bewaring en SANParke s’n in biodiversiteitsnavorsing, het die wetenskaplikes ‘n nuut beskrewe genus en spesie Richtersveldiella sanparkensis genoem – die eerste insekspesie sover bekend wat formeel na SANParke en Richtersveld Nasionale Park vernoem is.

LEES OOK: Richtersveld-oorgrenspark spog met unieke kwekery, botaniese tuin

Die navorsers het ook voorheen die streek se kulturele erfenis vereer deur ander genera na Khoisan en Nama te benoem, wat die diep historiese verband tussen plaaslike gemeenskappe en die unieke landskap erken.

Nama vanwyki. FOTO: Verskaf

Hierdie ontdekkings beklemtoon die belangrikheid van voortgesette wetenskaplike ontdekking binne beskermde gebiede en versterk SANParke se verbintenis tot die bewaring van nie net ikoniese wildlewe en landskappe nie, maar ook die minder sigbare spesies wat die grondslag van gesonde ekosisteme vorm.

“Die benoeming van Richtersveldiella sanparkensis is ‘n blywende wetenskaplike huldeblyk aan die Richtersveld en SANParke se voortgesette toewyding aan biodiversiteitsbewaring,” sê SANParke.

Plant ná 200 jaar herontdek

Onlangs is ‘n plant wat vir byna 200 jaar nie waargeneem is nie, in die Nieuwoudtville-gebied herontdek. Die Prismatocarpus fastigiatus, is laas in 1830 deur ‘n Duitse tuinboukundige en botaniese versamelaar Johann Franz Drège versamel en beskryf – en toe nie weer gesien nie.

Weens dit het plantkundiges geglo dat die plant óf uiters skaars was óf uitgesterf het. Dit was totdat biodiversiteitsbeampte JP le Roux daarop afgekom het op ‘n terrein sowat 12 km suid van Nieuwoudtville op die Bokkeveld-plato. Hy het ‘n foto op iNaturalist geplaas waar mede-plantkundiges dit kon identifiseer. Le Roux werk vir die Noord-Kaap departement van landbou, omgewingsake, landelike ontwikkeling en grondhervorming.

Navorsing oor waarom dié plant so lank nie gesien is nie, dui aan dat oorspronklik gedink is dat dit in die Caledon/Bredasdorp-gebied van die Wes-Kaap, sowat 300 km weg, voorgekom het – plantkundiges het dit op die verkeerde plek gesoek.

Ook blom die plant in die middel van die somer wanneer min plantkundiges waarskynlik in die veld is.

Le Roux het die ontdekking gemaak terwyl hy in die veld was op ‘n eiendom wat aan die Oorlogskloof-natuurreservaat grens.

“Die gebied het in 2024 gebrand, en ek was op soek na enige ongewone plante. Hierdie tyd van die jaar is dit ongewoon om enigiets in blom te vind. Toe ek op hierdie plant afkom, het dit onmiddellik my aandag getrek.”

Die Prismatocarpus fastigiatus in blom. FOTO: JP le Roux

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article