UPINGTON – Ná ’n lang en uitgerekte verhoor is twee van die drie beskuldigdes in die moord op die Upingtonse sakevrou Judith Redelinghuys (71) Dinsdag elk ‘n lewenslange vonnis opgelê. Die derde beskuldigde is vyf jaar gevangenisstraf opgelê.
Waarnemende regter Sharon Erasmus het op 3 Februarie in die rondgaande Hooggeregshof in Upington die drie – Nkosinathi Ntombela (39), Martatjie Engelbrecht (36) en Tumelo Mavlenter Sotho (44) – skuldig bevind op grond van hul onderskeie rolle in die “grusame en gierige” moord.

Die voorval het op 30 Junie 2020 gebeur, waar die afgetrede Redelinghuys in haar huis in ‘n beveiligde woonkompleks in Upington oorval, verwurg en in haar swembad gegooi is. Haar hande was agter haar rug met elektriese draad vasgebind. Haar dogter en kleindogter het haar lyk in die swembad ontdek. Die ondersoek het getoon dat juweliersware uit die huis gesteel is.
Luidens mediaverklarings van sers. Omphile Masegela, polisiewoordvoerder, en Mojalefa Senokoatsane, woordvoerder vir die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), is hulle tevrede met die uitkoms van die saak en moet dit as waarskuwing vir ander misdadigers dien.
Die polisie se ondersoek, onder leiding van speursers. Vuyani Silingile, het aanvanklik geen DNS of vingerafdrukke op die toneel gevind nie. Die deurbraak het gekom toe een Ntombela probeer het om ‘n duur ring by ‘n plaaslike pandjieswinkel te verkoop.
Hoewel Engelbrecht aanvanklik die polisie mislei het deur in ‘n beëdigde verklaring te beweer dat die ring aan haar behoort, het verdere ondersoek in Kaapstad bewys dat die juweliersware uniek en vir Redelinghuys ontwerp en vervaardig is. Selfoonrekords het die beskuldigdes verder met die misdaadtoneel verbind.
Engelbrecht se vals verklaring het gelei tot Ntombela se vrylating ná ‘n lang onderhoud om sy alibi te bevestig, maar hy is later weer in boeie geslaan.
Staatsaanklaers, advv. Jaques Rosenberg, Simon Matsoso en Terché Engelbrecht, het volgens die NVG oortuigende getuienis aan die hof gebied, wat getuieverklaringe en selfoon-nasporingsdata insluit. Dit het die beskuldigdes ten tye van die misdaad in die omgewing van die oorledene se woning geplaas.
Die staat het ook borgtog suksesvol teengestaan. Al drie beskuldigdes het gedurende die verloop van die verhoor in aanhouding gebly. Hoewel die staat erken die beskuldigdes was sowat vyf jaar in aanhouding hangende die afhandeling van die verhoor, was die vertragings “redelik” gegewe die kompleksiteit van die saak, die volume getuienis en operasionele uitdagings soos beurtkrag. Geen doelbewuste vertraging of benadeling van die beskuldigdes is vasgestel nie.

Ter strafverswaring het die staat aangevoer die beskuldigdes was deur gierigheid en die geloof dat die oorledene groot bedrae geld in haar huis gehad het, gemotiveer. Die beskuldigdes het verskeie geleenthede gehad om van hul plan af te sien, maar het verkies om voort te gaan. Die beskuldigdes het afsonderlike maar onderling verwante rolle gespeel en moet volle verantwoordelikheid aanvaar. Die moord is beskryf as afskuwelik, wreed en ‘n growwe skending van vertroue, gepleeg teen ‘n kwesbare bejaarde vrou in die veiligheid van haar eie huis.
Luidens die verklaring het die hof die vernietigende invloed op die oorledene se familie in ag geneem, soos dat haar familie haar lyk ontdek het.
LEES OOK: Leidrade min ná moord
Die hof het Engelbrecht se verweer dat sy deur Sotho beïnvloed is, verwerp. Terwyl Sotho in aanhouding was, het Engelbrecht die polisie bly mislei. Sy het speurders op ‘n vals spoor na Kaapstad gestuur, en probeer om ‘n onskuldige persoon te werf om haar vals weergawe te staaf. Sy het ook bewyse versteek deurdat sy die juweliersware na Ntombela se huis verskuif het.
Die hof het gehoor dat Sotho, wat in dieselfde woonkompleks as tuinier gewerk het, die oorledene se vertroue oor tyd gewen het. Sy kennis van die slagoffer se lewenspatrone en toegang tot die kompleks het ‘n deurslaggewende rol gespeel in die uitvoering van die misdade. Die hof het die moord as “moedswillig, wreed en ‘n growwe skending van vertroue” beskryf.
Sotho en Ntombela is gevonnis tot lewenslange tronkstraf vir moord en 15 jaar vir roof met verswarende omstandighede. Engelbrecht is gevonnis tot vyf jaar direkte tronkstraf, nadat sy skuldig bevind is as ‘n medepligtige in die misdade.
Al drie veroordeeldes is ook onbevoeg verklaar om vuurwapens te besit.
Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) sê hulle hoop die uitspraak bring ‘n mate van berusting en genesing vir die familie van Redelinghuys.
Genl.maj Monica Sebili, ZF Mgcawu-distrikskommissaris, het die vonnis verwelkom en gesê dit dien as ‘n duidelike waarskuwing teen geweld teen bejaardes en vroue.




You must be logged in to post a comment.