Drie mans is elk verlede week tot drie jaar tronkstraf gevonnis vir die diefstal van ’n stoetram ter waarde van R100 000.
Pieter Booysen (27), Kevin Bostander (29) en Wesley van Rooi (25) is op Donderdag 5 September in die landdroshof in Loxton skuldig bevind ná die diefstal van die ram op 26 Februarie vanjaar.
Die ram was in die proses om na die buiteland vir verkope uitgevoer te word, sê lt. kol. Sergio Kock, polisiewoordvoerder.
Speursers. Winston Jullies van die polisie se veediefstaleenheid in De Aar word vir sy deeglike ondersoekwerk geprys.
- In ’n onverwante voorval is vyf mans op Saterdag 7 September in Kimberley vir huisinbraak en verkragting, asook gewapende roof, in hegtenis geneem.
Die vyf mans, wat 23 tot 39 jaar oud is, is verdagtes in twee onverwante sake – huisinbraak en verkragting, asook gewapende roof.
’n Taakspan van Operasie Vala Umgodi in die Francis Baard-distrik, onder die bevel van kapt. Neo Maeneche, het inligting ontvang oor vyf verdagtes wat vermoedelik betrokke was by ’n voorval van huisinbraak en verkragting in Madibapark in Galeshewe. Hulle was na bewering in die besit van ’n vuurwapen en messe.
Met die opvolg van die inligting is die vyf verdagtes opgespoor, en ’n replika van ’n 9 mm-pistool, asook messe, is in hul besit gevind.
Die vyf verdagtes word ook met ’n gewapende roof op 14 Julie in die noorde van Kimberley verbind, sê sers. Merapelo Pilane, polisiewoordvoerder.
Hulle sal vandeesweek in die landdroshof in Kimberley verskyn.
- Die afgelope week het die polisie in die Noord-Kaap, as deel van Operasie Shanela, verskeie suksesse behaal en is 630 verdagtes vir verskeie misdade in hegtenis geneem.
In Upington is twee verdagtes vir die besit van dagga ter waarde van meer as R3 miljoen in hegtenis geneem.
Daar is ook in Upington beslag gelê op onwettige sigarette, ter waarde van R2 miljoen, sê sers. Timothy Sam, polisiewoordvoerder.
Die provinsiale polisiekommissaris, lt. genl. Koliswa Otola, bedank die polisielede vir hul suksesvolle optrede teen misdaad, en ook die gemeenskapslede wat waardevolle misdaadinligting aan die polisie verskaf.





