Die Griekwas sal verlede jaar se vertoning in die Curriebeker-pylvak teen die Cheetahs wil nadoen wanneer die spanne dié naweek in Bloemfontein kragte meet.
Pieter Bergh, afrigter van die Poubloues, is ná die oorwinning van 47 – 21 oor die Griffons Saterdag (20/05) in Welkom optimisties oor hul oorblywende drie wedstryde, met die Griekwas vyfde op die punteleer.
“Ons mikpunt is nou om ons laaste drie wedstryde te wen. Ons het nou die Cheetahs weg, en dan het ons die Westelike Provinsie en Pumas tuis. Ons glo ons is goed genoeg om al drie wedstryde te wen en hopelik weer in ’n uitspeelronde te kom. Die fokus verskuif nou na die Cheetahs.
“Ons het verlede jaar dieselfde tyd ons beste wedstryd teen hulle gespeel in Kimberley.”
Die Poubloues het verlede jaar se wedstryd in Kimberley met 46 – 18 gewen en voortgegaan om die eindstryd te haal.
Die Griekwas het Saterdag gou tot verhaal gekom nadat die Griffons reg aan die begin met agtereenvolgende drieë die voortou geneem het.
Bergh sê hulle het baie karakter gewys om vier keer te gaan druk en met 28 – 14 voor te loop nadat die Perses vroeg toegeslaan het.
Hy sê hulle het in die tweede helfte te veel foute gemaak en dat hulle met al die veranderinge wat hulle aangebring het, ’n bietjie bestendigheid verloor het.
Hy was in sy noppies oor die wyse waarop hulle die Perses dié keer in die lynstaandrywe gestuit het.
Jacques Juries, afrigter van die Griffons, sê hulle kon nie hul dryfmaalbewegings aan die gang kry nie, en hy het die baie foute wat sy span weer gemaak het opnuut betreur.
“Ons het aan die begin baie momentum gekry. Maar toe gee ons hulle ’n oop deur. Ek dink dit was in agt minute dat hulle drie drieë gedruk het.
“Ons kon nie daarvan herstel nie.”




