Die Springbok-rugbyspan se oorwinnings­toer om sy wêreldbekersege op tuisbodem te vier begin op Donderdag 2 November.

Die Bokke het Dinsdag op die O.R. Tambo-lughawe in Johannesburg aangekom, en die toer sou 48 uur later begin om die Webb Ellis-trofee aan ondersteuners in Pretoria, Johannesburg en Soweto te wys. Vrydag is hulle na verwagting in Kaapstad en Saterdag in Durban. Die toer sluit Sondag in Oos-Londen af.

Die Suid-Afrikaanse Rugby-unie (Saru) het onderneem om in 2024 na Bloemfontein, Nelson Mandelabaai en ander kleiner metro’s te reis. Die roete vir elke deel van die toer sal in oorleg met plaaslike munisipaliteite en owerhede bepaal word, en sal op Saru se webtuiste bekendgemaak word.

Intussen het die oud-Springbokvleuel Breyton Paulse gesê dat niemand die land verenig soos wat die Springbokke dit doen nie. Hy sê vanjaar se span is die beste van sy geslag, nadat dié spelers Saterdagaand in Parys, Frankryk, ’n vierde wêreldbeker-titel verower het. Dit kom nadat kaptein Siya Kolisi en sy span Nieu-Seeland met 12 – 11 geklop het.

Dit is die Bokke se tweede titel agtereenvolgens nadat die span in 2019 in Japan ook die trofee gewen het.

Die rugbykommentator Hennie Koortzen sê die wedstryd was ’n uitstekende vertoning deur die Bokke, en dat hulle vasberade was om te wen. Hy sê dit is moeilik om ’n speler uit te sonder­, want ál die spelers het karakter gewys.

Ook die rugbykommentator Matthew­ Pearce het geskryf die Springbokke se oorwinning is die beste tot nog toe in die geskiedenis van die wêreldbeker.

“Wat hulle vermag het, is buitengewoon. Om teen vyf van die topses-lande op jou pad na oorwinning te speel, is sekerlik die beste wêreldbekerrugbysege nog,” skryf Pearce.

Sportverslagspan, Netwerk24

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article