Die jaarlikse Agri Noord-Kaap-kongres wat in Kimberley plaasgevind het, het gefokus op hoe boere hul ondernemings meer veerkragtigheid kan gee te midde van ‘n veranderende ekonomiese en klimaat-omgewing en die verantwoordelike gebruik van kunsmatige intelligensie- (KI) tegnologie.
Op die kongres, gehou op 26 en 27 Augustus, is Willem Symington en Wiaan van Rensburg weer onbestrede tot onderskeidelik die voorsitter en ondervoorsitter verkies.
In sy toespraak het Symington gesê boere leef in ‘n vinnig veranderende wêreld waarin “die grond onder landbou geskuif het”.

Dit word aangedryf deur ‘n toenemend gepolitiseerde geopolitieke landskap; ‘n veranderende ekonomiese omgewing met vrae oor marktoegang, vraag na produkte en internasionale tariewe; die toenemende risiko’s van klimaatsverandering soos strawwe droogtes, vloede en die direkte invloed van wetgewing op kostes; en nuwe geleenthede wat tegnologie deur die vierde industriële revolusie meebring.
Die landbousektor en die breër samelewing gaan gebuk onder ‘n swak funksionerende regering, verval van infrastruktuur, swak ekonomiese groei, gebrekkige dienslewering en hoë werkloosheid.
Vennootskappe bepleit
Teen dié agtergrond waarsku Symington teen emosionele en sosialemedia-gedrewe debatte; boere moet op nugter, volwasse en verantwoordelike wyse optree. Data speel ‘n al hoe groter rol in besluitneming, en boere moet daarop reageer.
Symington bepleit vennootskappe met diensverskaffers, kopers, finansiële instellings en geleenthede soos Nampo om positiewe energie in die sektor terug te ploeg.
Dr. Rudi Steinbach van die Reserwebank sê die verlaging van die nasionale inflasieteiken na 3% van die historiese 3%- tot 6%-band op die duur bring verligting vir boere. Hoewel die ekonomiese herstel deur die oorlog in Iran, wat internasionale oliepryse opjaag, en die naderende El Niño-droogterisiko gekniehalter word, bied ‘n laer inflasiekoers direkte, tasbare voordele deur ‘n meer stabiele plaaslike kostebasis te skep. Boere moet daarom die ekonomiese en klimaatsiklusse verstaan en verwag.
In sy aanbieding het dr. Jaco du Toit van Akademia gesê boere moet KI konserwatief gebruik en eers uittoets om te bepaal of dit volhoubaar is. KI samel data in wat verwerk word, waarna spesifieke take uitgevoer moet word. Dit skep geleenthede vir ‘n skerpskutter-metode soos kol-besproeiing en geteikende bespuiting van plae en akkurate opbrengsvoorspellings. Boere moet egter bedag wees op risiko’s soos hoë intekeningkostes, swak ontvangs, data-eienaarskap en kuberveiligheidsbedreigings.
Jonges in debat gewikkel
Leerders van die Hoërskool Martin Oosthuizen (HMO) in Kakamas het weer die gebruiklike skoledebatkompetisie gewen. Hulle het teen die Hoërskool Diamantveld, wat ‘n eerste keer deelgeneem het, en die Hoër Landbouskool Jacobsdal (Landboudal) meegeding.
Die HMO se leerders Conraad Burger en Pieter-John Stadler meen moderne tegnologie moenie die boer se kennis en ervaring vervang nie, maar dit met die kombinasie van “mens en data” versterk. Hul data-ontledings toon groot kostebesparings in die praktyk.
Aiden Brooks en Elri de Wet van Landboudal se betoog was gestruktureer rondom presisieboerdery, waterbestuur, dieregesondheid en algemene bekostigbaarheid. Boere is aangemoedig om nuwe tegnologie soos hommeltuie, sensors of GPS-stelsels te gebruik, want dit help met ingeligte besluite om risiko’s te verminder.
WG Mülke en Wilmari van Zijl van Diamantveld het geïllustreer hoe rou data ingesamel en omskep word in praktiese besluite, soos presisie kunsmisdosering. Hulle redeneer daar is ‘n groot verskil tussen skattings van “baie reën” teenoor presiese boekstawing van reënval, grondvog en opbrengste om beter op weerstoestande te reageer.






You must be logged in to post a comment.