WILLISTON – Oom Johan Spamer, voorheen van die Williston-distrik, is op Saterdag 17 Januarie in die ouderdom van 84 jaar oorlede.

Tydens sy afsterwe was hy in die MediClinic Durbanville in die Wes-Kaap waar hy op 23 Desember opgeneem is.

Hy was ‘n oud-onderwyser wat in sy jonger jare in Brandvlei en Groblershoop skoolgehou het. Ná sy uittrede uit die onderwys, in 1994 by Hoërskool Labori in die Paarl, het hy op die plaas Boesmanskolk in die Williston-distrik gaan boer.

Oom Johan was aktief in die gemeenskap betrokke, onder meer as die ATKV- en AfriForum takvoorsitter. Sy kundigheid om droogtehulp te help koördineer deur met verskillende organisasies saam te werk, sal onthou word.

Met sy rooi Gideons-Bybeltjie, getrou in sy boonste linkersak, was sy Skepper vir hom belangrik en dat die Woord gedeel moet word. In die hospitaal was dit een van die laaste dinge wat hy gedoen het: om Gideon-Bybeltjies aan ander uit te deel. Hy het graag Psalm 23 gedeel en as skaapboer en gelowige in Christus het hy goed begryp en prakties beleef “die Here is my Herder”.

Hy word oorleef deur sy vrou, Doreth, sy seuns Manus, Ernus en Johan, asook twee skoondogters – Riana en Tanja – en vyf kleinkinders – Tharetha, Marinus, Jan-Hendré, Stephan en Herman.

Sy troosdiens vind Saterdag 31 Januarie om 11:00 by die AGS Oase gemeente in Vredendal plaas. Die skakel vir YouTube-stroming is: “Johan Spamer 31 Januarie 2026”.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article