Die snelbouler Jofra Archer was op 1 Februarie op die Diamant-ovaal in Kimberley met 6/40 in die derde wedstryd tussen Engeland en Suid-Afrika een van Engeland se drie helde.
Die ander wedstrydwenners, Dawid Malan en Jos Buttler, het honderdtalle en ’n rekord-vennootskap aangeteken in Engeland se sege met 59 lopies.
Danksy Malan (118, 114 b; 7×4, 6×6) en Buttler (131, 127 b; 6×4, 7×6) se 232 lopies om die vierde paaltjie, die hoogste Engelse vennootskap nog om enige paaltjie teen Suid-Afrika, het die besoekers 346/7 opgestapel.
Heinrich Klaasen het die tuisskare hoop met 80 van 62 balle gegee, voor hy ook ’n slagoffer van Archer was.
Archer en Adil Rashid (3/68) het die remme om die beurt met paaltjies aangedraai.
Engeland het Temba Bavuma (35) en Rassie van der Dussen (6), die twee kolwers wat honderdtalle gekry het in die twee wedstryde in Bloemfontein, in die eerste 12 beurte uitgekry.
Reeza Hendricks (52, 61b) en Aiden Markram het 50 om die derde paaltjie aangeteken.
Archer het in sy tweede boulskof ’n groot slag geslaan met die paaltjies van Markram en David Miller (13) in agtereenvolgende beurte.
Rashid het dit met Marco Jansen (12) se paaltjie 193/6 in die 31ste beurt gemaak. Klaasen en Wayne Parnell (34) se rekordvennootskap teen Engeland van 85 lopies om die sewende paaltjie was die laaste stuiptrekkings.
Dit was nadat Lungi Ngidi (4/62) ’n paaltjie in elk van sy eerste drie beurte platgetrek het om die Engelse op 14/3 ná ses beurte te laat steier. Dit was 20/3 ná 10 beurte en 40/3 ná 15.
Engeland se 100-tal het met die halfpadmerk op die telbord verskyn, wat beteken 244 lopies is in die laaste 25 beurte gemoker.
Suid-Afrika het uiteindelik drie vangskote van Tabraiz Shamsi se boulwerk verbrou.
Malan het op 27 en toe weer op 46 oorleef toe Shamsi self misgetas het. Malan het in die volgende boulbeurt sy 50-tal van 79 balle gekry. Hy en Buttler het in die 39ste beurt albei hul honderdtalle behaal. Hulle het 106 balle benodig om dié mylpaal te bereik.
Engeland het vier paaltjies in die laaste 10 beurte verloor, maar steeds 107 lopies opgestapel.




