’n Kommerwekkende tekort aan pleegouers bestaan.

“Omstandighede noodsaak dit soms dat kinders onmiddellik uit ouerlike sorg verwyder moet word, en daar is dikwels nie pleegouers beskikbaar om in sulke omstandighede ’n kind te beveilig nie,” sê Isabel Faurie, ’n maatskaplike werker van Solidariteit Helpende Hand.

Om dié rede het die organisasie ’n aanlyn platform geskep om die proses vir voornemende pleegouers makliker te maak.

“Al die geregistreerde kinderbeskermings­organisasies in Afrikaner-kultuurgemeenskap­pe waarmee Helpende Hand geskakel het, dui die tekort aan pleeg- en veiligheidsouers aan,” sê Faurie.

Sy sê meer as 105 kinders is in 2021-’22 in instellings soos kinderhuise vir inwoning geplaas omdat daar nie genoeg en geskikte pleegouers beskikbaar was nie.

“Honderde kinders, van babas tot 18-jariges, soek na ’n liefdevolle huis, en voornemende pleegouers moenie bang wees om ’n verskil te maak nie.

“Kinderbeskermingsorganisasies het hul hande vol met gevalle en daarom wil Helpende Hand met hierdie veldtog ’n platform skep waar voornemende pleegouers meer oor die proses kan uitvind.

“Die maatskaplikewerkdienste van Helpende Hand beskik nie oor statutêre magte nie en kan nie pleeg- of veiligheidsouers goedkeur of kinders beveilig nie, maar kan wel deur middel van ’n pleegsorgplatform mense bystaan om hierdie waardevolle diens te lewer.”

Wat is pleegsorg?

Pleegsorg behels dat ’n kind by gekeurde pleegouers geplaas word nadat die kind deur die kinderhof sorgbehoewend bevind is.

Redes vir die verwydering van kinders uit ouerlike sorg hou verband met onder meer fisieke, seksuele of emosionele mishandeling; fisieke of emosionele verwaarlosing; ernstige gesinskonflik en gesinsgeweld; alkohol- en dwelmmisbruik deur die ouers; en onstabiele maatskaplike werking.

Faurie sê voornemende pleegouers worstel met baie vrae oor pleegsorg, en dit verhinder hulle om hulself as pleegouers beskikbaar te stel.

Pleegsorg.co.za verduidelik in diepte wat pleegsorg behels en bied ’n volledige uiteensetting van die pleegouer en die biologiese ouers, asook die pleegkind, se regte.

Voornemende pleegouers, of mense wat hul huis as plek van veiligheid beskikbaar wil stel, kan hulle ook op dié webblad registreer.

Daarna word hulle in verbinding gebring met die onderskeie geregistreerde kinderbeskermingsorganisasies wat die keuringsproses hanteer.

“Die uitdagings van pleegsorg moet nie geringgeskat word nie. Dit is uiters noodsaaklik dat voornemende pleegouers deeglik gekeur word om seker te maak daar word holisties in die behoeftes van die betrokke kind voorsien,” verduidelik Faurie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article