Boogskutters oud en jonk het Saterdag (19/02) by die Laerskool Du Toitspan in Kimberley byeengekom vir die eerste Noord-Kaapse provinsiale kompetisie van Africa Genesis Archery South Africa NPC (AGA-SA).
In die nuwe welpie-afdeling het Dylan O’Connell, ’n gr. 2-leerling aan die Laerskool Eureka, ’n punt van 231 uit 300 behaal, en hy het ses tiene geskiet.
In die laerskoolafdeling was Marvin Ponton (gr. 7) van Eureka eerste met 249/300. Ciska du Preez (gr. 7), ook van Eureka, was tweede met 226/300; en Elrize de Greeff, ’n gr. 6-tuisskoolleerling, derde met 205/300. Morné Kasper, in gr. 7 aan Du Toitspan, was vierde met 194/300.
Tyra Adams, ’n gr. 11-tuisskoolleerling en lid van die Adventure Archery Club Kimberley, was eerste in die hoërskoolafdeling met ’n uitmuntende punt van 283/300, en sy het 19 tiene geskiet.
Henno van der Merwe, in gr. 10 aan die Hoërskool Diamantveld, was tweede met 265/300; Eckard van der Westhuizen, ’n gr. 8-tuisskoolleerling en lid van Adventure Archery, was derde met 245/300 en Terence van Eck in gr. 10 aan die Hoërskool Adamantia vierde met 243/300.
In die volwasse afdeling was Dawid de Greeff van Adventure Archery eerste met 273/300, Schalk van der Merwe van Adventure Archery tweede met 269/300, Jan Visagie van Du Toitspan derde met 249/300 en Werner Hoek, ook van Adventure Archery, vierde met 249/300.
Klub bied Afrika-toernooi aan
Saam met die opwinding van die kompetisie het die Noord-Kaapse klub bevestiging gekry dat hy beslis die Afrika-boogskiettoernooi in Julie gaan aanbied.
Volgens voorlopige beplanning gaan dié toernooi in die Mittah Seperepere-sentrum in die stad plaasvind.
Hiertydens sal AGA-SA se nasionale spanne in Kimberley byeenkom, waarvandaan die toernooi regstreeks per Skype na deelnemende lande uitgesaai word. Benewens Suid-Afrika is die lande wat gaan deelneem Namibië, Botswana en Zimbabwe.
Moses sê die federasie is baie geesdriftig oor die moeite wat AGA-Noord-Kaap, in samewerking met AGA-SA, gedoen het om die internasionale geleentheid na Kimberley te bring.
Nuwe sportsoort brei uit
“Die relatief nuwe sportsoort van boogskut word in die provinsie verwelkom,” sê Moses.
Hy meen die sportsoort sal daartoe bydra om sportgeleenthede en gesonde ontspanning vir die jeug te skep.
Schalk van der Merwe, koördineerder van AGA-Noord-Kaap, sê hy is opgewonde oor die vooruitgang van boogskiet in die provinsie.
“Groei het veral die afgelope vier maande onder die jeug in ons skole plaasgevind, sedert die departement van sport, kuns en kultuur se skenking van boogskiettoerusting aan die Laerskool Du Toitspan.”
Van der Merwe bedank die skole wat reeds AGA-SA-boogskiet in hul skole verwelkom en bemark. Dit sluit die Laerskool Du Toitspan, die Laerskool Newton, die Orel- private akademie, die Kimberley Islamic School en die Elizabeth Conradie-skool (Elcon) in.
AGA-Noord-Kaap bedank ook die Noord-Kaap-jagtersvereniging vir ’n skenking van ses drie-dimensionele teikens wat die skuts die geleentheid sal bied om aan die AGA-SA 3D-kompetisies deel te neem.
Boonop bedryf AGA-Noord-Kaap nou ’n projek in samewerking met Elcon en die Juané Raats-arbeidsterapiepraktyk om boogskiet vir leerlinge met fisieke gestremdhede toeganklik te maak.
“Die Afrika-toernooi in Julie en die nasionale kampioenskap in die Paarl in Oktober is twee hoogtepunte waarna ons baie uitsien. AGA-Noord-Kaap het ook ’n bod vir Kimberley ingesit om die gasheerstad vir die AGA-SA nasionale kampioenskap in 2024 te wees,” sê Van der Merwe.
Nog skole, asook lede van die publiek, word genooi om by AGA-SA, ’n nie-winsgewende organisasie, betrokke te raak.
Om navrae te rig en vir inligting, bel Van der Merwe by 082-762-9838 of Dawid de Greeff by 073-030-2909, of stuur ’n e-pos na nc@nasp.co.za.





