Vir Lindie van Rooyen en Dimone de Waal, vennote en eienaars van Engen Kathu, het dit nege-en-‘n-half-jaar geneem vandat die potensiaal vir dié onderneming raakgesien is tot die amptelike opening op 20 Maart verlede jaar plaasgevind het.
Vandeesweek, met Engen Kathu se eerste verjaarsdagsviering, vertel hulle dat dit beslis die moeite werd was om so “aanhoudend” te wees. Hul aansoeke is aanvanklik twee keer afgekeer, en van die franchise-houers moes oorreed word dat daar wel ‘n behoefte vir so ‘n geriefswinkel met vulstasie in Kathu bestaan.

“Ons het net nie nee vir ‘n antwoord aanvaar nie,” sê Lindie. “En dit is wat so lekker van ons diverse span is. Elkeen bring sy unieke bydrae tot sukses; waar een moed opgee neem die ander een oor en hou aan dryf. Dit sluit die vennote se eggenotes in.
“Ons is baie dankbaar vir elke kliënt, werknemer, vriend, familielid en besigheidseienaar wat ons so getrou ondersteun en saam met ons hierdie besigheid so ‘n groot sukses maak.”
LEES OOK: Engen Kathu presents first birthday bash on Friday

Die vennote vertel dat hul eggenotes die stuk grond net meer as nege jaar gelede geïdentifiseer het as ‘n ligging met baie potensiaal. ‘n Geloofsprong is gemaak, die grond is gekoop, en die prosesse van franchise-aansoeke en motiverings is begin. Dié prosesse het meer as nege jaar geneem – van die sonering, oordrag van lisensies, registrasies, en voortdurende kommunikasie met die franchise-houers.
In dié wagproses het hulle Zanray Motors, ook ‘n vulstasie met onder meer ‘n geriefswinkel, in Mynstraat oorgekoop en die twee vennote kon intussen waardevolle ondervinding opdoen om ‘n 24-uur operasie te bedryf.
Vandag het elke vennoot ‘n unieke rol waar Dimone hoofsaaklik finansiële bestuur by Zanray Motors doen, en Lindie merendeels by Engen Kathu betrokke is.







You must be logged in to post a comment.