‘n Aasvoël-geoglief wat oor die breedte van ses rugbyvelde strek, pryk nou in die Kalahari-sand by Van Zylsrus, wat as van die laaste veilige vestings van veral die kritiek bedreigde witrugaasvoël beskou word.
‘n Geoglief is ‘n groot ontwerp op die grond, gemaak deur klippe, rotse of grond te rangskik, of grondbedekking te verwyder. Die Nazca-lyne in Peru is waarskynlik die bekendste ter wêreld. Hierdie ontwerpe is gewoonlik vanuit die lug sigbaar, en ook op onder meer Google Earth.
Sedert einde September tot in die tweede week in Oktober het die skeppers van dié aasvoël-geoglief moeisaam die buitelyn en heelwat detail daarvan afgehandel. Die visuele- en landskapskunstenaar Anni Snyman, haar broer PC Janse van Rensburg en hul kunstenaarsvriendekring beplan om oor ‘n paar maande die buitelyn met nog ‘n ry wit kalkklippe te verbreed en dit wat nog nie afgehandel is nie, te voltooi.

Om die aasvoël-geoglief se buite- en hooflyn te vorm, was omtrent 17 000 kalkklippe nodig. Drie massiewe swart klippe is ook deur ‘n myn geskenk en afgelewer wat as die aasvoël se oog en ‘n inligtingsbaken tussen die kloue dien. Om die buitelyn na ‘n dubbellyn te verbreed, sal nog nagenoeg 17 000 klippe nodig wees.
Anni het sedert die Covid-19 pandemie daaraan gedink om ‘n aasvoëlgeoglief op te rig omdat daar in die tyd soveel mense dood is, en naasbestaandes weens regulasies nie behoorlik deur die rouproses kon gaan nie. “Die stap van die roete in die aasvoëlgeoglief kan deel van iemand se rouproses wees,” vertel sy.
In ‘n holistiese siening simboliseer aasvoëls die natuurlike proses van aftakeling of wegsterwing, asook die transformasie van dood in nuwe lewe, en word hulle as ‘n belangrike komponent van die lewensiklus beskou.

Anni, wie reeds etlike geogliewe en ander landskapkunswerke saam met die kunstenaarskring geskep het, het van die eerste kunsteweek in sy soort gehoor wat deur Pieter Pienaar van 7 tot 9 Oktober vir Van Zylsrus beplan word. Hierdie kunstenaarskring is ‘n land- en natuurkunsgroep en is deel van Site_Specific Collective, waarvan Anni die mede-stigter is.
Sy het aangebied om betrokke te raak deur die skep van die geoglief. Terwyl sy op Google Earth na ‘n geskikte terrein by Van Zylsrus gesoek het, het Pieter intussen aan ‘n stuk grond net buite die dorp gedink wat geskik sou wees. Hy kon binne minute uitvind dat dit aan die eienaars van die Van Zylsrus Hotel behoort, wat net so vinnig toestemming verleen het. Ná die tyd sou Anni en Pieter uitvind dat hulle presies dieselfde stuk grond in die oog gehad het.
“Dit was die vinnigste ooit wat so ‘n proses geduur het,” vertel sy en sê dit kan soms maande duur.
Nadat Anni en PC die terrein besoek het, het sy haar ontwerp geskep en sekere punte aan koördinate gekoppel. Voor haar en die kunstenaarskring se aankoms om met die geoglief te begin, het ‘n landmeter dié punte bepaal. Tydens hul eerste week in Van Zylsrus het die kunstenaars volgens ‘n sirkelmetode verdere punte op die grond bepaal en ook die ontwerp in seksies opgedeel.
Hiervolgens word die lyne van die ontwerp met ‘n “sandpotlood” – ‘n pyp gevul met sand – geteken en die klippe een vir een gepak. Omdat ‘n voertuig nie deur of naby die ontwerp moet ry omdat dit diep spore in die sand laat, word die klippe moeisaam met kruiwaens en die hand karwei.
Slegs materiaal uit die omgewing word gebruik, en plantegroei word behou.



Kunstenaar Izak Volgraaff sê die oneweredigheid van die kalkklippe maak die ontwerp juis meer interessant. “Dit is soos kwashale waaraan die verf nie eweredig is nie”, sê hy.
Hoewel daar nog baie ure se werk in die warm Kalaharison vir die span voorlê, sal die voltooide aasvoëlgeoglief binne ‘n paar maande vanuit die lug op Google Earth sigbaar wees. Die terrein sal vir besoekers oopgestel word wat deur ‘n plaaslike gids vergesel sal word. Besoekers wat die wandelpad langs die ononderbroke lyn van die geoglief stap, sal ongeveer 3,2 km stap.
Geogliewe permanent of verganklik, altyd simbolies
Die skep van ‘n geoglief is nie nuut vir dié groep nie. In 2019 het hulle die Desert Horse-geoglief by Aus in Namibië voltooi, in 2017 die Riverine Thinking Rabbit in Loxton, en in 2015 die Snake Eagle Thinking Path by Matjiesfontein, hul eerste permanente geoglief.
Namibië se wilde perde is ‘n simbool van aanpassing in ‘n wêreld waar merkwaardige veerkragtigheid vereis word. Die woestynperd-geoglief by Aus in Namibië – wat oor ‘n ruimte van 141 m by 61 m strek – is van herwinde heiningspale uit die omgewing geskep.
Die oewerkonyn-geoglief by Loxton – 104,5 m by 90 m – bied ‘n wandelroete van ongeveer 1 097 m. Hierdie geoglief beeld die kritiek bedreigde oewerkonyn (Bunolagus monticularis) uit, asook die wyd-gejagde swartrugjakkals, ook bekend as die rooijakkals.

By Matjiesfontein se slangarend-geoglief word ‘n swartborsslangarend uitgebeeld. Dit strek oor ‘n ruimte van ongeveer 170 m by 57 m, en die aaneenlopende lyn wat as ‘n wandel- of dinkpad dien, strek oor ongeveer 1 536 m. Binne-in die arend is twee ineenvloeiende vorms. Dit simboliseer die arend se voedsel – ‘n slang, asook die vloei van water in die nabygeleë rivier en die lugstrome wat die arend omhoog hou.
Op die webwerf site_specific.org.za word gesê dat “alhoewel sommige landskapkunswerke permanente installasies word, is baie van dit wat ons skep van verbygaande aard – nie-vernietigende, nie-indringende, verganklike kunswerke, tydelike installasies, optredes en betrokkenheid wat verdwyn soos die klimaat en omgewing die werk terug eis”.
Besoek dié webwerf, asook die groep se Facebook-blad om meer van hul kunswerke te sien.
Betrokkenheid noodsaaklik vir aasvoëlbewaring
Omdat aasvoëls kritiek bedreig is, werk mense soos Ronelle Visagie van die Trust vir Bedreigde Wildlewe (EWT) onverpoos om dié voëls se voortbestaan en veiligheid te verseker. Ronelle was ook in Oktober in Van Zylsrus en het tydens haar besoek die kunstenaarskring besoek en van aasvoëls se tipiese bedreigings vertel.
Sonder aasvoëls sal die ophoping van karkasse van dooie diere beduidende openbare gesondheids- en omgewingsrisiko’s inhou, en sal siekte-oordrag onder ander spesies toeneem. Aasvoëls se sterk maagsure kan verrotte karkasse verteer wat dikwels met onder meer miltsiekte en hondsdolheid besmet is. Is aasvoëls in die natuur afwesig, sal dié siektes meer versprei.
Ronelle het ook kennisgewingborde aan boere oorhandig wie se plase as aasvoëlveilig en -vriendelik bevind is en as deel van die Kalahari se aasvoëlbewaringsgebied beskou word. Dié boere is Johnny Kotzé, Gert Delport, Gerhard Schutte, Gerhard de Bruin (Fullifeesand), Gerhard de Bruin (Leeupan), Oujaap Duvenhage, Boet Möller, Frikkie le Roux en Riaan van Zyl.

Talle invloede bedreig aasvoëls
Sy vertel dat gif en kraglyne die twee grootste bedreigings vir aasvoëls is. Aasvoëls word op grootskaal deur wildstropers vergiftig omdat hulle die ligging aandui waar wild gestroop word. Hulle word ook in landbougebiede vergiftig wanneer gif in karkasse geplaas word om diere soos jakkalse uit te roei. Dié uitplaas van gif is onwettig.
Kraglyne lei ook tot die skokdood van aasvoëls wanneer hulle daarteen vasvlieg of op onveilige T-strukture gaan sit. In sulke gevalle kan boere of gemeenskapslede die EWT kontak wat Eskom kan versoek om die strukture veilig te maak.
Oop damme is ook ‘n bedreiging waarin aasvoëls kan verdrink. Dié voëls bad graag en kan in ‘n dam val en nie uitkom nie. ‘n Eenvoudige oplossing is om ‘n paal of stomp teen die kant van die dam vas te maak sodat dit saam met die watervlak op en af kan beweeg. Die aasvoël kan daarop sit en wegvlieg wanneer sy vlerke weer droog is. Damme kan ook met skadunet of sif bedek word.
Ander bedreigings is die doodmaak vir muti, windturbines, ape en bobbejane, witborskraaie wat eiers vreet, vernietiging van bome, loodvergiftiging (van loodkoeëlpunte wat in karkasse agterbly), veemedisyne, asook vuur en brande.
Ronelle werk oor die Noord-Kaap heen om inligting oor roofvoëls te versamel, beseerde voëls te red en bewustheid onder boere en ander belanghebbendes te bevorder. Sy is ook by projekte betrokke om aasvoëlkuikens in neste te tel, te ring en vlerkplaatjies aan te bring. Die inligting word in navorsing gebruik. Kontak haar by ronellev@ewt.org.za.






You must be logged in to post a comment.