Ons hoërskoolonderwysers het gemeen dat die woord “sokkie” glad nie van pas is vir ons geslag nie. “Julle hop net op en af op die musiek.” Ons kon nie stry nie. Daarna het hierdie aande as “hop-aande” bekend gestaan.
‘n Hop-aand is altyd naby Valentynsdag gehou. Vir dié geleentheid het die kunsonderwyseres wit papier, van groot rolle, aan die saal se binnemure vasgeplak.
Leerlinge kon die paar dae vooraf in pouses ‘n nota vir iemand spesiaal hierop aanbring. As die ou of meisie van jou drome nie van jou bestaan bewus was nie, kon jy dit anoniem doen.
Teen die hop-aand was die papier volgeskryf. Dit het baie tyd geneem om deur die boodskappe te loer – met die hoop dat jou naam iewers geskryf staan met ‘n boodskap daarby.
Oor die algemeen was die boodskappe positief en liefdevol. Hier en daar was ‘n neutrale boodskap. Een van die boodskappe het die patroon gebreek: “Jy het nie iemand nodig wat vir jou lief is nie, want jy is lief genoeg vir jouself.”
Ons almal ken so iemand. Iemand wat so beïndruk is met hom- of haarself dat daar geen ruimte vir enige soort verhouding is nie.
Mense wie se bestaan slegs om hulleself draai.
Hul behoeftes. Hul gewoontes. Hul geluk. Wat vir hulle gemaklik is. Waarmee hulle tevrede is. Hoe hulle iets gedoen wil hê.
Dit maak nie saak hoe ‘n gesprek begin nie, dit eindig altyd by hulle. Iets wat hulle gesê of gedoen of gedink het.
Die boodskap wat jy wil oordra, is saai en vervelig, húlle sal jou iets vertel wat indrukwekkend is.
Dit moet ongelooflik uitputtend wees om so interessant en belangrik te wees.
Die mooiste. Die slimste. Die beste. Altyd. Oral.
Die mense wat so lief is vir hulleself – weet hulle wat hulle misloop?




