a hand holding a magnifying glass near wooden table
Foto: pexels.com

In die Phokwane-munisipaliteit skuld raadslede, insluitend die burgemeester, glo gesamentlik meer as R1,4miljoen in uitstaande munisipale rekeninge. Ses raadslede skuld bedrae wat tussen R100 000 en net meer as R200 000 wissel.

Regerings- en private entiteite skuld meer as R21,4miljoen. Dit sluit in meer as R6,8miljoen deur die Noord-Kaapse departement van paaie en openbare werke. R2,3miljoen word deur die Frances Baard-distriksmunisipaliteit geskuld.

Lean le Roux, DA-raadslid, sê die party het die munisipale bestuurder versoek om die raad in te lig oor die plan om skuldinvorderingstekorte aan te spreek. Dié styging in skuldvlakke beïnvloed munisipale kontantvloei ernstig.

“Die munisipaliteit moet dringend ‘n veelsydige benadering volg om sy skuldinvordering te verbeter. Dit sal help om kwynende kontantvloei te beskerm en te voorkom dat die munisipaliteit nie meer sy krediteure kan betaal nie.”

Le Roux het die munisipale bestuurder skriftelik versoek om raadslede wat langer as twee maande met hul rekeninge agterstallig is, amptelik daaroor in te lig.

“Raadslede oortree die gedragskode wanneer hul meer as drie maande agterstallig is met hul munisipale rekeninge. Die munisipale bestuurder se versuim om skuld van raadslede behoorlik aan te spreek, sal hom ook skuldig maak aan pligsversuim,” sê Le Roux. 

‘n Versoek is ook gerig om meer aggressief teen wanbetalende kliënte op te tree, en dat langdurende rekeningdispute hersien en finaliseer word. Die inwerkingstelling van strategieë soos die uitreik van finale kennisgewings en om chroniese wanbetalers met kragonderbrekings te straf, moet ernstig oorweeg word.

Betalingsooreenkomste of debietorders moet geskep word om te verseker dat dié skuld dringend vereffen word.

Die meer as 60 000 mense wat in Phokwane woon, is afhanklik van die munisipaliteit se vermoë om aan te hou funksioneer.

“Die munisipaliteit moet die skuldsiklus breek en verseker dat dit die finansiële hulpbronne het om dienslewering te onderhou,” sê Le Roux.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article