In die wêreld waarin ons leef, raak die lyn tussen reg en verkeerd troebel. Ons mense vertel ‘n halwe leuen of ‘n halwe waarheid.
Nie van onlangs af nie. Verkeerd kry ‘n suikerlagie om en word vermom as ‘n redelike weergawe van die waarheid. Verkeerd word voorgehou as nie verkeerd nie.
My pa was ‘n kwaai mens. Hy was die ouer wat op skool my vraestelle geteken het. Dit was nie ‘n geval van loer na die punt en teken nie. Hy het sorgvuldig deur die vraestel geblaai en elke vraag en antwoord bestudeer. Ek het baie vroeg in my skoolloopbaan geleer dat ek elke vraag moes beantwoord.
Daar was min dinge wat hom so ontstel het soos wanneer ek ‘n vraag nie beantwoord het nie.
“Jy moet altyd probeer,” het hy kwaai gesê.
“Selfs al is jy van iets in die lewe nie seker nie, probeer net. Geen mens behaal sukses sonder om te probeer nie.”
In matriek het ek my vir die Afrikaanse vraestel voorberei, maar kort voor die afkortings het ek my handboek toegemaak en gebêre.
Ons het die volgende dag een vraag oor ‘n afkorting gekry. SALU. My brein was skielik leeg.
Ek het glad nie geweet wat om te skryf nie. Ek durf dit egter nie ooplaat nie. Ek het iets neergeskribbel en my vraestel ingehandig. Toe ek my vraestel terugkry, was daar ‘n merkie by daardie antwoord – asof dit ‘n halfpunt wou word, maar nie het nie.
Die onderwyseres het gesê: “Daar is iemand wat ‘n vreemde merkie langs die vraag met die afkorting gekry het.”
Ek het na my antwoord en die vreemde merkie gekyk. Suid-Afrikaanse Luguitvoere, het ek geskryf.
Sy het geglimlag.
“Ek wou vir jou ‘n halfpunt vir oorspronklikheid gee, maar nadat ek daaroor nagedink het, het ek besef – verkeerd bly verkeerd.”




