Om plaaslike gesondheidsorgdiente te verbeter, is ‘n professionele verpleër en vyf gemeenskapsorgwerkers by die Loeriesfontein Thusong-sentrum in diens geneem as deel van ‘n nuwe gesondheidsorginisiatief.
Dié inisiatief, befonds deur die Loeriesfontein- en Khobab-windkragaanlegte, is ontwikkel ná samesprekings met belanghebbendes, wat leemtes in plaaslike gesondheidsorgtoegang en -lewering uitgewys het.
“Dit bring gesondheidsorgdienste nader aan die huis, en noodsaaklike voorkomende sorg is meer geredelik vir alle inwoners beskikbaar,” sê Vanessa Fredericks, ekonomiese ontwikkelingsbestuurder vir die windkragaanlegte.
Sedert die program se bekendstelling is betekenisvolle vordering gemaak. Die professionele verpleegkundige speel ‘n rol in pasiënt-ondersoekeen voorskrifbestuur, terwyl dit belangrike skakels met die plaaslike kliniek en die departement van gesondheid behou om makliker verwysings na bestaande gesondheidsorgstrukture te verseker.

Die gemeenskapsorgwerkers, ten volle opgelei en toegerus, doen daaglikse huisbesoeke en bestuur chroniese pasiëntgroepe. Hul verantwoordelikhede sluit in die opsporing en ondersteuning van TB- en MIV/Vigs-pasiënte, die uitvoer van gesondheidsbevorderingsaktiwiteite en die organisering van uitreikprogramme om bewustheid te verhoog en voorkomende sorg aan te moedig.
“Hierdie program is ‘n groot aanwins vir die gemeenskap. Die inwoners waardeer die werk wat ons doen en is dankbaar vir die program. As gesondheidswerkers geniet ons ons werk en is ons dankbaar vir die befondsing deur die windkragaanlegte.,” sê Catherine Beukes, een van die versorgers.
“Deur van deur-tot-deur te gaan, help ons om mense se lewensomstandighede eerstehands te verstaan, wat verseker dat ons die nodige ondersteuning kan bied,” sê Catherine Beukes, een van die versorgers.
Catherine Beukes
Om die langtermynsukses van die program verder te verseker, is ‘n plaaslike gesondheidskomitee gestig wat gemeenskapslede bemagtig om groter eienaarskap vir hul gesondheid te neem. Inwoners het verbeterde toegang tot gehalte gesondheidsorgdienste, trek voordeel uit vroeë siekte-opsporing en voorkomingsmaatreëls, en verhoogde gesondheidsopvoeding en -bewustheid word oorgedra.
Deur gesondheidsorguitdagings op voetsoolvlak aan te spreek, bevorder die program ‘n gesonder, meer veerkragtige gemeenskap wat ‘n blywende, positiewe impak verseker.






You must be logged in to post a comment.