Die plaas Twyfelhoek se hek.
Die pad na Twyfelhoek. FOTO: Verskaf

Ons vier sit aan by ‘n baie deftige gedekte tafel. Stylvol.

Ons drink tee uit luukse, fyn koppies en ewe fyn word bordjies eetgoed ons aangebied. Ek sit net links van die ou familie-moeder. Ek, sy en haar twee dogters is hier saam. Sy het pas 97 geword. ‘n Geseënde ouderdom.

Haar huis en tuin is pragtig. Alles in plek, alles op hul plek. Sy het my spesiaal laat kom vir hierdie geleentheid.

Sy wil van haar man se hout-handewerk aan my oordra. Vir my kantoor. Dit is tyd. Sy het dit ‘n leeftyd gebêre, maar nou is dit lank genoeg.

Sy en die dogters het besluit hulle wil nie sy handewerk verkoop nie en hulle wil ook nie hê dit moet iewers in ‘n stoorkamer beland nie. Dit moet uitgestal word, sigbaar en gesien word.

Sy wil eers met my kuier. Ons drink tee en eet skons. Ek besef die verantwoordelikheid wat sy aan my opdra toe sy sy handewerk aan my oorhandig. Vir baie sal dit ‘n stukkie hout wees, vir haar is dit haar liefde vir haar man, haar onthou, hul saamwees en hul herinneringe.

Vir jare het dit in haar huis gestaan. Haar dogters het so groot geword. Daarom is hulle al drie hier. Om saam die waentjie aan my te oorhandig. Die waentjie van pa. Fyn handewerk met sy naam daarop. Houtspeke wat getuig van sy vermoë om fyn te kon werk. Skeie en ‘n juk vir die osse. Selfs ‘n wa-kis en ‘n waterkannetjie. Detail ja – dit is wie hy was.

Sy huil as sy die waentjie oorhandig. En sy glimlag. Pas hom op, vra sy. Die waentjie en my hart. In liefde is dit gemaak, in liefde het sy dit opgepas, in liefde word dit oorgegee, met liefde staan dit in my kantoor.

Alles word nie altyd aan geld gemeet nie. Waarde word soms anders bepaal.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article