Kameeldoring: Ware vriendin troef enige volgeling op sosiale media

Kameeldoring vir rubriek
Credit: Helena Barnard

“The women were new friends, but I loved them in a massive way. The love was like a large trove of devotion that could only be amassed over time, but it had arrived all at once. The way I loved them felt like it was from long ago.” – Jenny Slate, Little Weirds

Interessant hoe ‘n vreemdeling dadelik in jou hart kan klim. Hoe die persoon se aanskoue, lyftaal, uitdrukking, oë, glimlag, houding alles kan sê oor wie en wat sy is.

Haar groet, haar eerste sinne, hoe sy vreemdelinge en ou vriendinne groet, alles hiervan spreek boekdele. Meer as enige lang toespraak, of alewige gereelde skrywes op Facebook om die oningeligte naïewe volgelinge te vertel hoe fantasties en slim jy is al het jy nie ‘n graad nie, hoe fantasties jou werk is, hoe baie jy weet, hoe ander mense jou ag.

Nee wat. Dit is net ‘n dun lagie vernis om minderwaardigheid te versteek.

Ware mense is diegene wat seker is wie en wat hulle is, en diepe vrede het.

Ek kyk op na vroue wat nederigheid en selfagting toon in hoe hulle met hulself en ander omgaan. Diesulkes inspireer dadelik.

Vroue wat jou deur dik en dun, deur skande en skade bystaan, wat verstaan, wat omgee, wat weet wat dit is om feilbare mens te wees.

Die vroue wat jou bemoedig as jy alleen voel, wat jou klankbord is wanneer in vertwyfeling, wat saam kan skinder en lag.

Iemand wat net ‘n halwe woord, ‘n wetende kyk benodig.

‘n Onlangse saamgesels met ‘n skrywer het dit weer bewys. Iemand wat ‘n uitdagende lewenslange taak, aanvanklik onwelkom, in ‘n triomf en ‘n ode aan liefde omskep het.

Iemand wat ‘n broertjie dood het aan oppervlakkige gedagtes, klagtes, siektes en skete.

Sy weet wat die waarde van liefde, vriendskap en omgee is.

‘n Vriendin, nie ‘n volgeling nie, waarna ons eintlik smag.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article