Van die kinders tydens verlede jaar se Kersparty by die Laerskool Reneilwe, saam met Apostel Siena Lephoi. Foto: Verskaf

Die Kersparty-geselligheid wat die afgelope ses jaar deur die Walk-by-Faith-sopkombuis vir kinders van Santa Centre en Mahala-park in Kimberley aangebied word, is so gewild dat dit vir kinders van ander gebiede oopgestel word.

Gregory Taylor, stigter en voorsitter van dié nie-winsgewende organisasie, vertel dat baie navrae ontvang is van ouers van ander gebiede oor dié geselligheid wat jaarliks op 26 Desember plaasvind.

“Ons het besluit ouers kan hul kinders vir die Kersparty registreer. Ons gaan kinders vanaf vier jaar oud tot 16 jaar oud, aanvaar teen R20 per kind per maand vir die tien maande vanaf Maart tot Desember.”

Ouers betaal altesaam R200, met die laaste betaling op 15 Desember.

“Met hierdie R200 sal ons u kind vir die dag uitneem, met hul vervoer, ete en Kerspakkie ingesluit,” sê Taylor.

Persone word ook uitgenooi om die maandelikse betaling te doen om aan ‘n onbekende kind ‘n geleentheid te bied om die Kersparty by te woon.

Die betrokkenes by die sopkombuis bedank vriende, familie, kollegas, Facebook-kontakte en ander lede van die publiek wat gereeld skenkings aan die sopkombuis gee. Taylor nooi ouers uit wat hul kinders vir die Kersparty wil registreer, om hulle te kontak en ‘n vorm in te vul.

Ouers wat self die geleentheid wil bywoon, is welkom teen R200 per persoon.

Skakel 073-198-3506 of 073-402-1487 vir meer inligting, of besoek Walk-by-Faith Soup Kitchen op Facebook.

Die Walk-by-Faith-sopkombuis is ‘n nie-winsgewende organisasie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article