Oupa Jan is dood toe ek nog ‘n seuntjie van agt jaar was.
Ek het hom wel goed genoeg geken om sekere dinge sterk te onthou, onder meer hoe hy ons besig gehou het.
Hy het ‘n probleem gehad met lui wees.
Ek onthou sy sagte, in liefde gedrewe opdragte: “Roer jou,” of “Lig jou,” of “Draf bietjie tot by die hek.”
Tot vandag toe sal jy nie sommer een van sy kleinkinders ‘n hek loop-loop sien oopmaak nie, ons draf.
Uiteraard was sy vyf kinders, onder andere my moeder, ook mense wat geen luiheid kon verdra nie.
Ek onthou nog goed my ou liewe ma se rympie wat sy loop en sing het, amper daagliks: “Nog ‘n bietjie slaap, nog ‘n bietjie sluimer, nog ‘n bietjie hande vou om uit te rus.”
Hannes Noëth
Sy sou jou maklik uit die Bybel teregwys: “Gaan na die mier, luiaard – kyk en word wys.”
Ek was al groot toe ek leer daar is heelwat Bybel-tekste wat na lui mense verwys.
Ek besef toe Oupa Jan en liewe ma bevind hulle in gesaghebbende geselskap.
Met al hierdie agtergrond begryp ek hoekom dit vir my een van die moeilikste dinge in die lewe is om mee te doen te kry: Ek worstel met lui mense.
Ek kan dit nie verdra nie.
Baie dinge kan by my verbygaan, maar ‘n lui mens maak my moeg.
‘n Mens kry mos mense wie se lui lui is, só lui is hulle.
Dan dink ek aan die teenoorgestelde: aan die voorreg om te werk.
Mag jy hierdie week fluks-fiks wees.


