Die Rooyspan maak staat op skietgebede. Kinders grootmaak is nie perde koop nie. Dit verg geduld en veral gebede vir wysheid en onderskeidingsvermoë.
Een aand besef Ouboet dat sy hare begin verdonker. Nuuskierig vra hy sy pa of sy hare ook donkerbruin sal word, soos sy pa s’n.
Ná ‘n bevestigende “ja” vra hy ernstig: “Oh, so it will become black and white too?” Rooypa sluk ‘n lag weg en weet nie of hy verleë of verslae moet wees nie.
Ander kere verseker sy dwaaldenke onbedoelde humor. Tydens tafelgebed voltooi hy onskuldig die frase “dankie vir die diertjies…” met “wat ons nou gaan eet.”
Gewoonlik lui dié deel van die gebedsrympie: “Dankie vir die diertjies groot en klein, hou asseblief ons hartjies rein… ”
Maar nie alle humor is toevallig nie. Soms is dit aspris en moedswillig. Jongste, wat lief is vir verandering, beveel haar pa om haar “table” en poniehuis te skuif. Hy vra droogweg: “Hoekom moet ek die duiwel skuif?”
Rooypa se aweregse humorsin ontsien nie eens Rooyma nie. Op ‘n reënerige dag, toe sy verskonings maak om nie saam te draf nie, protesteer sy: “My horlosie is nie waterdig nie.” Hy kap terug: “Dit is.” Sy probeer weer: “Maar ek gaan natreën.” Sy antwoord? “Jy is ook waterdig.”
Dié denke smeer aan die kinders af. Skaars het Sussie ‘n wit leuentjie gefabriseer om skottelgoedwas vry te spring, of Oudste tjip in: “Die Bybel sê as jy nie werk nie, kan jy nie eet nie.”
Rooyma herken haar eie woorde en haar siel knik innerlik dankbaar dat sommige woorde tog byval vind.



