Die ouditeur-generaal (OG) se jongste verslag oor die gebrekkige vordering wat betref wanbestuur en onregmatige besteding deur munisipaliteite, kan geen verrassing wees nie.
Volgens Kimi Makwetu, die OG, was daar die afgelope drie jaar min vordering met die meeste munisipaliteite wat stagnant gebly het of selfs agteruitgegaan het.
Inderdaad.
Verlede jaar het Ratings Afrika se verslag die beroerde toestand van plaaslike regering – veral onder die ANC – behoorlik deurtrap.
Die gevolgtrekking was dat ’n algehele ineenstorting van munisipale dienste moontlik is – “met katastrofiese gevolge vir inwoners en ondernemers, wat op sy beurt politieke onrus kan aanwakker”.
Te oordeel na Makwetu se somber beoordeling, het hierdie gevaar kennelik nie verdwyn nie. Met diensleweringsopstande oor die land heen, is die skrif ook reeds lankal aan die muur.
Luidens die Ratings Afrika-verslag is die meerderheid munisipaliteite in Suid-Afrika in ’n finansiële krisis, met min of geen maatreëls om doeltreffende beheer oor begrotings uit te oefen nie.
Altesame 77% van die munisipaliteite in die peiling is in ’n begrotingstekort vasgevang en die algehele verliese beloop R13,3 miljard.
Lees dít teen die agtergrond van 2018 se verslag van die OG waarluidens onregmatige uitgawes met 75% toegeneem het vergeleke met die vorige jaar – dít op die hoogtepunt van die Zuma-bewind.
Slegs 49 van die land se 250 munisipaliteite het ’n skoon oudit ontvang.
Ons weet nou al die kern van die probleem is swak finansiële bestuur, wat tot die aanstelling van onbevoegde amptenare teruggevoer kan word. Kortweg, kaderontplooiing.
– Volksblad, 3 Julie

