Inwoners van Kuruman is woedend oor die infrastruktuur in die dorp wat ten gronde gaan.
Só sê Willie Aucamp, DA parlementslid, en kiesafdelingshoof vir die Kalahari-streek.
Hy vereis dat die munisipaliteit daadwerklike aandag sal gee om die verdere verval van Kuruman te verhoed.
Volgens Aucamp word die swak bestuur wat deur die munisipaliteit toegepas word, bevestig deur die uiters swak prestasie van die GaSegonyana-stadsraad, soos vervat in die verslag van die ouditeur-generaal.
Aucamp sê die konstante agteruitgang van Kuruman se infrastruktuur is te danke aan ’n munisipaliteit wat nie ’n benul het hoe om ’n gesonde munisipale bestuur toe te pas nie.
Hy sê Braam van der Westhuizen, die DA se raadslid vir Wyk 1, wat hoofsaaklik uit Kuruman bestaan, het al by verskeie geleenthede die agteruitgang van die infrastruktuur in die dorp onder die aandag van die stadsraad gebring, maar dit val op dowe ore.
Volgens Van der Westhuizen verval die infrastruktuur omdat die munisipaliteit oor jare versuim het om dit in stand te hou. Dit is kommerwekkend dat daar nuwe uitbreidings deur die munisipaliteit toegelaat word, terwyl hulle nie eers voldoende dienste aan die bestaande inwoners en besighede kan verskaf nie.
Van der Westhuizen sê die dorp is in chaos gedompel, riool loop in die strate en by skole, die slaggate was nog nooit so baie nie, en die kragnetwerk van die dorp bly ’n probleem.
As voorbeeld noem hy dat inwoners in en om Fonteinstraat reeds vir maande gebuk gaan onder die stank van bloedwater wat opgedam het in die area, en dat die munisipaliteit ná verskeie versoeke steeds versuim om dit skoon te maak.
Die DA het ook verskeie ander rioolprobleme by die Groen Skerpioene aangemeld.
Volgens Van der Westhuizen pomp die abattoir alle bloed in ’n opgaarhouer en moet die munisipaliteit die bloedwater daagliks uitpomp. Dit gebeur egter nie en veroorsaak dat dié houers oorloop.
Hy benadruk dat die probleem nie voor die voete van die abattoir gelê kan word nie, aangesien hy aan alle gesondheidsvereistes voldoen.
Die DA is besig om regsmenings in te win, en beplan onder meer om te kyk na die moontlikheid van ’n klasaksie teen die munisipaliteit.
Van der Westhuizen sê dat inwoners nie beskuldig kan word dat hulle nie hul kant bring nie.
“Daar is verskeie gemeenskapsorganisasies wat help om die omstandighede in Kuruman te verbeter. Die buurtwag staan die polisie by in die beveiliging van ons dorp.
“Die Skoner Kuruman-groep help permanent met die skoonmaak van die dorp se vullis, en dan is daar ook die groot klomp werk wat AfriForum verrig.”
Van der Westhuizen sê dat hy as raadslid namens die inwoners van Kuruman graag al die instansies wil bedank vir hul positiewe bydraes, maar sê ook dat dit onaanvaarbaar is dat die munisipaliteit nie sy inwoners behoorlik bystaan nie.
- Die munisipaliteit het teen druktyd nie op Kalahari Bulletin se navraag reageer nie.





