’n Vrou (46) word in polisie-aanhouding ondervra nadat die lyk van ’n bejaarde boer van Jan Kempdorp die naweek in die studeerkamer van sy hoewehuis buite die dorp gekry is.

Ernst Human (87) se hande en voete was volgens die polisie vasgebind en hy het wonde aan sy bene gehad toe ’n familielid Saterdag (12/02) omstreeks 20:00 op sy lyk in die huis op die hoewe afgekom het.

Lt.kol. Sergio Kock, Noord-Kaapse polisiewoordvoerder, sê die polisie se provinsiale eenheid teen georganiseerde misdaad ondersoek ’n klag van moord.

’n Vrou is in Kimberley in aanhouding en word deur die polisie ondervra oor Human se dood.

Kock sê die familielid het Saterdag gaan ondersoek instel by die huis nadat Human nie op boodskappe reageer het nie. Die familielid het toe op Human se lyk afgekom.

Die polisie sê dit is nog nie seker wanneer Human aangeval is nie, maar die vermoede bestaan dat dit Vrydagaand laat of Saterdag in die oggendure was.

Volgens ’n ingeligte bron is die plaaslike veiligheidstrukture in die Vaalharts-skema nie Saterdagaand ontbied om die gebied te fynkam nie. Dit is moontlik nie gedoen nie om die toneel en moontlike bewyse te bewaar en omdat Human se lyk eers laat gevind is.

Kock sê die polisie kan nie in dié stadium sê of enigiets van Human gesteel is nie.

Enigeen met inligting oor die voorval kan speursers. Stefaans Mangate by 060-963-6397 bel.

Anena Burger

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article