Groot dele van die Wes-Einde-begraafplaas is heeltemal oorgroei en onbegaanbaar.

Foto: Verskaf Credit: SYSTEM

“Ek was weer eens diep hartseer en teleurgesteld, want dit lyk elke keer so.”

Dit is die woorde van ’n ontstelde inwoner van Kimberley nadat sy op 26 April haar ouers se grafte by die Wes-Einde-begraafplaas wou besoek.

Dié dag was die 34ste herdenking van haar pa se dood.

“Ek kon nie by my ouers se grafte uitkom nie, want dit is heeltemal toegegroei,” sê sy.

Vroeg in Mei is sy en familielede weer begraafplaas toe, net om dieselfde situasie aan te tref. Dié keer kon sy van ’n afstand ’n broek met ’n belt op die graf sien – ’n teken dat die begraafplaas deur leeglêers bewoon word. Omdat sy nie by die graf kon uitkom nie, kon sy dit nie verwyder nie.

Sy vertel dat niemand dit buitendien kan waag om alleen die begraafplaas te besoek nie, uit vrees dat ’n mens beroof of aangerand kan word.

Ook op Moedersdag, toe sy en familielede blomme op haar ma se graf wou plaas, moes hulle voor die ruig bosse omdraai.

Volgens haar hoop sy elke keer om die begraafplaas in ’n meer begaanbare toestand aan te tref, maar tevergeefs.

“Dit lyk soos ’n oerwoud,” sê sy.

Skynbaar word daar net rondom die kantoor skoongemaak.

“Elke keer praat ek met iemand wat glo in beheer van die Wes-Einde-begraafplaas is, en elke keer belowe hy dat dit skoongemaak sal word. Maar dit word nooit gedoen nie,” sê sy.

“Betaal inwoners dan nie vir die grafte nie? Asseblief, Sol Plaatje-munisipaliteit, maak ’n plan.”

Thoko Riet, woordvoerder van die munisipaliteit, bevestig dat dele van die begraafplaas erg oorgroei is, en sê die onlangse en aanhoudende reën het daartoe bygedra.

Riet sê omdat Kimberley soveel groot begraafplase het, het die munisipaliteit nie die mannekrag om alles voortdurend skoon te hou nie.

Om dié rede is skoonmakers deur ’n befondste projek aangestel. Omdat die projekbestuur hulle glo die afgelope tyd nie betaal het nie, het hulle egter ophou werk.

Riet sê volgens beplanning sou ’n span van die munisipaliteit Dinsdag (10/05) begin om die begraafplaas skoon te maak.

Die Wes-einde begraafplaas.

Die Wes-einde begraafplaas.

Die Wes-einde begraafplaas.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article